Dis glo net 'n kwessie van tyd voor die reëns gaan kom.

Verlede jaar was Suid-Afrika in die knyp ná 'n droeë en warm somer met min reën die land getref het. En hoewel vanjaar se lente al so te sê op sy rug lê, meen Kobus Botha, 'n professor in landbou en ook 'n weervoorspeller, dat die eerste behoorlike reëns teen 10 Oktober kan val.

Hy het in sy voorspellings van huidige weerpatrone gevind dat donderbuie oor die sentrale deel van die land asook in dele van KwaZulu-Natal reeds oor die naweek kan begin val.

Ongelukkig sluit sy voorspellings nie reën in vir die noordelike deel van Suid-Afrika nie. Vir die Noordoostelike deel van die Kaap voorspel Kobus reen vanaf 11 Oktober. Hierdie voorspelling geld ook vir KwaZulu-Natal, die Vrystaat en Mpumalanga.

"Dit is nie 'n algemene reënvalvoorspelling nie," meen hy, "eerder 'n kans op eerste sterk donderbuie."

Die Suid-Afrikaanse weerkantoor in Bloemfontein voorspel soortgelyke reënvalpatrone oor die komende dae. Phemelo Zonke, 'n voorspeller daar, sê dit is onmoontlik om presies te voorspel wanneer dit gaan reën, maar dat dinge in die volgende twee weke belowend lyk.

Volgens haar gaan dit heel waarskynlik die naweek ook in Noordwes reën.

Volgende week se voorspelling lyk ook belowend, met 'n kans op reën in die sentrale en oostelike deel van die land. Tog moet boere en ander behoeftiges nog nie te opgewonde raak nie. Phemelo meen daar is nog geen aanduiding van 'n groot somerreënval op die kaarte nie.

"Dalk as ons'n reëndans doen, sal die buie meer gereeld kom," spot sy.