Hul pogings was vergeefs en die kleuter is langs die swembad van die huis in Salt Rock dood verklaar.

Quentin Power van die gespesialiseerde reddingseenheid sê die poging om die meisie se lewe te red het ’n emosionele tol geëis.

“Uit wat ons vasgestel het, was die ma besig om aandete te maak toe sy agterkom haar dogtertjie is nie by haar nie. Toe sy gaan kyk, het sy gesien die skuifdeur is oop wat na die tuin en swembad lei,” sê hy.

“Sy het uitgegaan en die kleintjie op die bodem van die swembad aangetref. Sy het ingespring en haar uitgetrek terwyl sy om hulp geskree het. Haar twee jong seuns het gekom en toe hardloop een van hulle na ’n woonstel op hul werf en vra die huurder se hulp. Hy het ons ontbied,” sê Quentin.

“Ek was net om die hoek van hul huis af en binne ’n paar minute daar. Die ambulans was net agter my. Toe ek op die toneel kom, was die ma en haar huurder besig om mond-tot-mond-asemhaling toe te pas. Toe neem ek oor saam met twee ander ouens van die reddingseenheid. Ons het byna twee uur lank daarmee volgehou.

“Die meeste van ons ken die gesin en ons kinders is met hul kinders bevriend. Dit was ’n emosionele toneel en baie uitputtend. Nou nog, ’n dag daarna, neem ons almal bestek op en dit het beslis ’n tol geëis,” sê hy.

Bron: News24