Johannesburg – Wagte van die sekuriteitsonderneming Bad Boyz en straatskoonmakers het vroeg vanoggend gehelp om ’n baba op ’n sypaadjie in Hillbrow in die lewe te bring.

Die onderneming se Hendrik de Klerk het aan News24 gesê ’n sekuriteitsbeampte is net ná eenuur vanoggend geroep toe ’n vrou op die punt was om by die ingang van ’n gebou die lewe te skenk.

“Ons het ons na die toneel gehaas en ’n ambulans ontbied. Die ambulans het aangekom, maar die babaseun was reeds gebore met die hulp van straatskoonmakers en Bad Boyz-wagte.”

Hendrik sê vroulike Pikitup-skoonmakers doen wonderlike werk in die omgewing.

“Hulle loop snags alleen en maak donker strate skoon – waar die straatligte altyd af is. Ons hou altyd ’n oog oor hulle,” sê hy.

“Daar is wonderlike mense in Hillbrow . . . Dit is waarlik ’n wonderlike voorstad. Dit is net die gebou-kapers en ’n paar skelms wat dit ’n slegte naam gee.”

Bron: News24

Lees ook: Ma deel hartroerende foto’s van babaseuntjie wat sy geweet het nie sou oorleef nie

Lees ook: Babatjie word as ’n dwelmverslaafde gebore