Baie mense het al smoordronk op ’n rusbank aan die slaap geraak nadat hulle te veel alkohol gedrink het.

Maar Mett Kamil, ’n 25-jarige Pool, het dit ’n tree verder geneem en glo in sy plaaslike lykshuis in die dorpie Kamienna Góra in die suidweste van Pole wakker geskrik.

Volgens Metro het Mett se hart gaan staan nadat hy ’n onbehoorlike hoeveelheid sopies wodka gedrink het. Hy is na die hospitaal gehaas waar dokters vergeefs probeer het om sy lewe te red.

Sy lewelose liggaam is toe na die hospitaal se lykshuis geneem en in ’n yskas geplaas.

En dis net hier waar dinge ’n vreemde wending geneem het. Volgens die nuusblad Speisa het een van die hospitaalwagte geluide uit een van die yskaste gehoor.

“Ek was seker dit was ’n inbraak,” het die oorblufte wag gesê. “Ek het een van die yskaste se deur met bewende hande oopgemaak.”

Daar het hy die poedelkaal Mett -- baie beslis lewend -- aangetref. Mett het doodluiters ’n kombers gevra. Die jong man het duidelik net sy roes afgeslaap ná die vorige aand se gefuif.

Die wag het die polisie en dokter gebel. Hulle het hulle na die lykshuis gehaas en Mett daar springlewendig gevind. Die dokter het hom ná ’n vinnige mediese ondersoek toegelaat om huis toe te gaan.

Maar wat was die eerste ding wat hy gedoen het toe hy uit die hospitaal kom? Hy is reguit kroeg toe.

Om die dood te oorleef, is blykbaar rede om te vier.

Bronne: Metro; Speisa