Hulle sê jy moet gaan studeer waarvan jy hou . . . En as jy van pizza hou, is daar nou ’n nuwe graad net vir jou! Hm, dalk met onderskeidings in deeg uitrol of tamatiesous maak?

Dis g’n verrassing dat die Pizza Hut-restaurantgroep, in samewerking met die Manchester Metropolitaanse Universiteit in Engeland, dié kursus opdis nie.

Hulle bied altesaam 1 500 vakleerlingskappe in pizzamaak. Studente kan oor die volgende vyf jaar op verskillende vlakke daarvoor inskryf – en uiteindelik met ’n graad in pizzamaak wegstap.

“Ons sal oor die volgende paar jaar hard werk om vir ons vakleerlinge en spanlede net die beste opleiding en ontwikkeling te bied. Dit sal hulle toerus met lewensvaardighede, vir meer as net werk in restaruante,” sê Kathryn Austin, direkteur: menslike hulpbronne en bemarking van Pizza Hut.

Klink na ’n wenresep, of hoe?

Lees ook: Nie taal, tegnologie of selfs kanker keer ouma van graadvang

Dis natuurlik nie die eerste keer dat ’n universiteit ’n ietwat ongewone graadkursus aanbied nie. In 2009 het Engeland se Liverpool Hope-universiteit aangekondig hulle bied ’n meestersgraad aan in Beatles-studies (die musiekgroep, nie die goggas nie!)

Ander universiteitskursusse ontleed weer gewilde boek-, TV- en fliekreekse, soos Game of Thrones, Harry Potter en The Hunger Games. Selfs popsterre soos Beyoncé en Lady Gaga word ook bekyk . . . Skielik nie meer so lus vir daardie onderwyskursus of prokureursgraad nie?

Game of Thrones

Naam van kursus: Our Modern Medieval: The Song of Ice and Fire

Aanhangers van die gewilde Game of Thrones-reeks worstel met baie vrae. Wie is die held Jon Snow se ma? Hoekom het die zombie-agtige White Walkers ná al die jare verrys? Wat gaan aan met Bran en sy psigiese magte?

Mense wat hoop ’n universiteitskursus sal dié vrae help beantwoord, kan nou by Universiteit van Brits-Columbië gaan inskryf.

George R.R. Martin se boeke, asook die gewilde televisiereeks, word gebruik om te kyk na hoe die moderne samelewing gebruik is om die middeleeue (die tyd waarin die storie in ’n fiktiewe wêreld afspeel) te herskep.

Antwoorde of te not – dit klink na groot pret! Voornemende studente moet reeds al vyf boeke gelees het, en ook by wees met die televisiereeks. Dink net: As jy dié kursus volg, het jy ’n geldige rede om TV te kyk – dis mos klaswerk!

Harry Potter

Naam van kursus: Harry Potter and the Age of Illusion

Ongelukkig sal dié universiteitskursus, wat sedert 2010 aangebied word, jou nie leer hoe om towerkunsies te doen, Quidditch te speel of towerdrankies te brou nie.

Die program, wat by die Durham-universiteit se departement van opvoeding aangebied word, probeer uitpluis hoekom die reeks so gewild is.

Studente bekyk ook ernstige kwessies vanuit Harry se oogpunt, soos byvoorbeeld wat die wedywering tussen die twee Hogwarts-huise, Gryffindor en Slytherin, sê oor vooroordeel en onverdraagsaamheid in die klaskamer.

Beyoncé

Naam van kursus: Politicising Beyoncé

Sy staan bekend as Queen B – daarom is dit seker niks minder as reg nie dat daar ’n universiteitskursus aan dié superster van pop toegewy word nie!

Maar soos die naam aandui, gaan die kursus oor meer as net hoe sy daai lyf van haar wikkel.

“Met hierdie kursus sal daar gepoog word om te kyk na ons hedendaagse Amerikaanse samelewing en die politiek van klas, ras, gender en seks, deur die lens van Beyoncé se musiek en loopbaan.” So verduidelik die departement van vroue- en genderkwessies van die Rutgers-universiteit op hul webtuiste.

Die kursus word sedert laasjaar by dié Amerikaanse universiteit aangebied.

Die doel van die kursus is ook om dié vraag te beantwoord: “Kan Beyoncé se musiek beskou word as ’n bloudruk vir progresssiewe sosiale verandering?” Diep!

Lady Gaga

Naam van kursus: Lady Gaga and the Sociology of the Fame

Hier’s een vir die Monsters!

Mathieu Deflem, ’n sosiologiedosent aan die Universiteit van South-Carolina, het in 2009 vir Lady Gaga op ’n Amerikaanse kletsprogram sien optree.

Dié “buitengewoon talentvolle en opwindende nuwe kunstenaar” het so ’n indruk op hom gemaak dat hy die graadkursus geskep het.

Dit fokus op die popster se vinnige opgang, en hoe sy by miljoene mense van verskillende kulturele en agtergronde aanklank vind. “Studente sal iets ernstigs moet leer,” sê hy. “Maar hulle kan ook iets ernstigs oor ’n prettige onderwerp leer. Ek glo dit sal sorg vir ’n bietjie opwinding, want sosiologie kan maar vervelig wees!”

The Hunger Games

Naam van kursus: The Hunger Games: Class, Politics, and Marketing

Politieke teorie kan sommige van vervelig aan die slaap maak, maar die Universiteit van Amerika het besluit om dit ’n bietjie op te kikker verlede jaar deur temas uit The Hunger Games by die vak te voeg.

Dié gewilde reeks boeke en flieks gemik op jong volwassenes gaan oor Katniss Everdeen, ’n tiener wat aan ’n wrede werklikheidsreeks deelneem waar tieners tot die dood teen mekaar moet baklei. Die kursus, wat deur die departement van geesteswetenskappe aangebied word, gebruik The Hunger Games as vertrekpunt om temas soos die rykdomgaping tussen sosiale klasse, politiek en etiek te bekyk, en hoe dit verband hou met die probleme wat Amerika vandag in die gesig staar.

Bob Dylan

Naam van kursus: Bob Dylan’s Lyrics

Kan die liedjieskrywer Bob Dylan met beroemde Amerikaanse digters soos Ezra Pound en T.S. Elliot vergelyk word? Dis een van die vrae in ’n skryfseminaar by die Boston-universiteit in Amerika. Die seminaar word sedert 2008 aangebied. “Ek dink hy’s een van die beste hedendaagse Amerikaanse digters, selfs al kyk jy net na die lirieke gestroop van die musiek,” sê Kevin Barents, ’n dosent in skryfwerk en die man agter die kursus. En aangesien Dylan sowat Met 40 albums gemaak het, behoort daar oorgenoeg bronmateriaal te wees.

The Beatles

Naam van kursus: The Beatles, Popular Music and Society

Studente aan die Liverpool Hope-universiteit kan sedert 2009 ’n meestersgraad behaal in dié Engelse stad se beroemdste uitvoerproduk behaal: die Beatles.

“Die Beatles het soveel invloed op die samelewing gehad. Nie net met hul musiek nie, maar ook met mode, soos hul kraaglose baadjies en psigedeliese klere,” sê dr. Mike Brocken, hoof van populêre musiek by die universiteit.

Studente leer ook meer oor popmusiek in 1960’s oor die algemeen, en watter impak dit op die samelewing gehad het.

’n Meestersgraad in The Beatles gaan jou dalk nie ’n beter kans gee om ’n werk te kry nie, maar dis darem iets waaroor jy lekker kan spog. Die Kanadees Mary-Lu Zahalan-Kennedy was in 2011 die eerste persoon om dié graad te verwerf. “Die kursus was uitdagend, pret en het insig verleen oor die impak wat die Beatles gehad het, en vandag steeds het, oor verskeie aspekte van die lewe.”

Tydmors op die internet

Naam van kursus: Wasting Time on the Internet

Die kursus Wasting Time on the Internet klink soos enige luiaard se droom! Dit word aangebied deur die Engelse departement van die Universiteit van Pennsylvanië.

Vir drie uur per week kan studente in kreatiewe skryfwerk die internet besoek, YouTube-video’s kyk en op sosiale media boer. “Afleiding en verdeelde aandag is verpligtend. So dis basies ’n doellose en intuïtiewe soektog,” sê die skepper van die kursus, Kenneth Goldsmith.

Maar dis waar die leeglêery eindig. Aan die einde van die semester moet studente ’n literêre stuk, gebaseer op hul aanlyn-swerftogte, inhandig.

Kenneth glo omdat ons soveel tyd aanlyn deurbring, kan ons net sowel iets daaruit skep wat die moeite werd is. Kan iemand ’n outobiografie skryf deur net Facebook as bron te gebruik? Of kan Twitter-inskrywings in ’n roman omskep word? Meld aan en kyk . . .

  • Saamgestel deur Petro-Anne Vlok

BRONNE: telegraph.co.uk, dur.ac.uk, womens-studies.rutgers.edu, sc.edu, american.edu, bu.edu, liverpoolecho.co.uk, hope.ac.uk, theatlantic.com, english.upenn.edu, telegraph.co.uk, reuters.com, time.com, mashable.com