, al het die kaartjies vir die 50 beplande konserte gevlieg, het die hof Maandag gehoor.

Eric Briggs van FTI Consulting het eerste getuig in die 14de week van die Jackson-familie se hofsaak teen die konsertpromotors AEG Live.

Die popkoning se familie dagvaar AEG vir nalatigheid en blameer die onderneming vir sy dood op 25 Junie 2009.

Hulle beskuldig AEG Live daarvan dat hulle Michael te hard gedruk het terwyl hy in Los Angeles vir sy This Is It-terugkeerkonsertreeks in Londen gerepeteer het. Hulle voer ook aan AEG was nalatig deur dr. Conrad Murray aan te stel om na hom om te sien.

Murray is in 2011 aan manslag skuldig bevind in verband met Michael (50) se dood aan ’n oordosies propofol. Hy het Michael dié chirurgiese narkosemiddel gegee omdat hy aan chroniese slaaploosheid gely het.

Die Jacksons eis skadevergoeding van sowat R14,7 biljoen. Dis die bedrag wat hul kenner skat Michael uit die konserte en ’n wêreldtoer sou verdien het as hy geleef het.

Maar Eric, ’n getuie vir die verdediging, het Maandag in die hooggeregshof in Los Angeles beklemtoon Michael se beeld het in die jare voor sy dood kwaai agteruitgegaan – tot so ’n mate dat geen onderneming sy laaste toer wou borg nie, al is die 50 konserte in Londen binne ure uitverkoop.

“Handelsmerkondernemings begryp die kunstenaars kan goeie konserte lewer, maar dit beteken nie hulle wil met die kunstenaars verbind word nie,” het Eric gesê.

Volgens hom het Michael se beeld in die 90’s ’n bietjie verbeter, maar om verskeie redes in 2003 weer verswak – veral weens die beskuldigings dat hy jong seuns gemolesteer het.

Vir grootnaam-handelsmerke was Michael ’n risiko, want nuwe skandale kon sonder waarskuwing aan die lig kom, het Eric verduidelik, en “handelsmerke soek voorspelbaarheid”.

– Sapa

sapalogo