Die nuutste navorsing van AdaptiveMobile wys daar is ’n kommerwekkende toename in gemorsboodskappe wat spesifiek op hierdie sosialemediaplatform versprei word. Dit kom veral voor in Europa en Indië, maar weens WhatsApp se wêreldwye invloed, kan dit enige plek ter wêreld voorkom.

Navorsers het ook bevind die mense wat dié boodskappe stuur, beweeg weg van SMS’e en gebruik WhatsApp en soortgelyke boodskapdienste.

“Hoewel ons nie weet presies in watter mate hierdie kuberaanvalle oor WhatsApp-netwerke versprei het nie, is dit duidelik dat WhatsApp nou ook, nes ander boodskapnetwerke, ’n ‘gemorsboodskap-ekosisteem’ ontwikkel het,” lui die verslag.

Hoewel dit onseker is hoe ernstig Suid-Afrikaners geraak gaan word hierdeur, kan ’n mens net raai watter skurke gevind sal word onder die 700 miljoen aktiewe gebruikers en watter slenterboodskappe alles voorkom tussen die 30 miljard boodskappe wat daagliks wêreldwyd gestuur word. Wees op jou hoede!

– Michael Essany, infosecurity-magazine.com, mobilemarketingwatch.com