OTM-bedrog is vining besig om toe te neem.

30-1427693340-atm

Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) maan alle verbruikers om paraat te wees wanneer geld by ’n kitsbank ontrek.

“Om geld by ’n OTM te trek, is vining en gerieflik, maar ongelukkig is dit baie maklik vir misdadigers om dit te gebruik om bedrog te pleeg," sê Kalyani Pillay van Sabric.

"Misdadigers gebruik verskeie metodes om OTM-gebruikers se aandag af te trek en hulle te manipuleer om eindelik toegang tot hul bankkaarte en PIN-kodes te kry om geld te steel.”

Verskillende modus operandi’s word gevolg om OTM-bedrog te pleeg, verduidelik Kalyani.

Dit sluit onder meer in:

  • Die misdadiger sal die gebruiker by die kitsbank nader en hulp aanbied. Hy of sy sal dan jou bankkaart omruil met ’n soortgelyke een sonder dat jy dit agterkom.
  • Die misdadiger sal naby aan die gebruiker staan om sy/haar OTM-pin te sien. Hulle sal daarna die regte kaart neem en saam met die PIN-kode kontant gaan trek.
  • Misdadigers sal die taal van die OTM-skerm verander sodat dit die gebruiker deurmekaar maak en hy/sy hulp kan aanbied.
  • Misdadigers sal die kaartgleuf probeer blok sodat hulle die gebruiker na ’n ander, geïsoleerde kitsbank kan lok.

Sabric gee die volgende wenke vir verbruikers om nie in hierdie strikke te trap nie:

  • As jy vermoed daar is fout met die OTM, kaneselleer die transaksie onmiddellik.
  • Vermy kitsbanke waarvan die skerms dof vertoon of wat te stadig werk.
  • Hou jou kaart reeds byderhand wanneer jy ’n OTM nader. Vermy dit ook om jou beursie oop te maak by die kitsbank.
  • Wees versigtig vir vreemdelinge wat jou hulp bied. Hulle probeer dalk jou aandag aflei om sodoende jou kaart en/of PIN te kry.
  • Volg die instruksies van die kitsbank noukeurig.
  • Tik jou PIN in slegs wanneer daarvoor gevra word.
  • Rapporteer verdagte mense wat by die kitsbank rondhang.
  • Indien jy tydens die transaksie gepla word deur ’n ander persoon, verander jou PIN onmiddellik of stop jou bankkaart.
  • Vermy kitsbanke met eienaardige voorwerpe wat daaraan vasgemaak is.
  • Moet niemand om hulp nader nie, self nie die sekerheidswagte nie. Gaan liewers direk bank toe.
  • Moet nooit jou bankkaart in die gleuf in forseer nie.
  • Kies ’n PIN wat maklik is om te onthou, maar moeilik is om te ontsyfer. Moet nie jou verjaarsdagdatum gebruik as ’n PIN nie.
  • Kyk gereeld na jou balans en rapporteer enige onreëlmatige transaksies dadelik aan jou bank.