'n Onbekende aantal mense word glo ook as gyselaars aangehou.

Verskillende bronne sê vier tot 12 mense het reeds gesterf. Luidens berigte is daar kinders onder die sterftes.

Volgens CNN is daar nou amptelik bevestig dat een persoon gesterf het terwyl 32 in die terreuraanval beseer is.

Volgens ’n Spaanse nuusdiens het die voertuig, na bewering ’n gehuurde voertuig, heen en weer gery om die grootste moontlike hoeveelheid mense op daardie manier te tref.

Dit het teen ’n kiosk gebots waarna die bestuurder van die paneelwa te voet van die toneel gevlug het.

Daar word beweer dat twee gewapende mans gyselaars in ’n nabygeleë Turkse restaurant aanhou het.

Marc Esparcia (20), ’n student wat in Barcelona woon, het aan BBC vertel van ’n groot geraas waarna almal vir skuiling gesoek het.

“Ek dink talle mense is getref. Dit was verskriklik. Daar was paniek. Verskriklik,” het hy vanuit ’n koffiewinkel waar hy skuil, vertel.

Rachel Mersky, ’n produkontwerper van Oakland, Kalifornië, het aan NBC News gesê sy was op die oomblik van die aanval in die omgewing.

“Skielik het almal begin gil en hardloop en sommer bo-oor mekaar gehardloop en gehuil. Ek het ook saam met hulle gehardloop.”

Aamer Anwar wat ’n konferensie in die stad bywoon, sê ook hy het ook die mense hoor gil. “Ek het ’n vrou langs my gesien wat na haar kinders roep.”

Intussen versoek die polisie mense om die Plaza Catalunya-gebied te vermy en om nie die polisie se aktiwiteite in die sosiale media te deel nie. Die moontlikheid van ’n tweede voertuig waarin van die aanvallers sou ontsnap het, is nie uitgesluit nie.

WAARSKUWING: GRAFIESE VIDEO!

Bronne: nbcnews.com, elesquiu,com, thesun.co.uk, sky.com