Die staking spruit voor uit ’n salarisgeskil en daar kon tot Dinsdagmiddag laat nog nie tot ’n vergelyk daaroor gekom word nie.

Bethuel Nkuna, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse polisie-unie, het sy spyt uitgespreek oor die stap wat nou geneem word.

“Ons is teleurgesteld dat ’n departement soos hierdie een, wat die reg en orde van ’n land is, sake so laat verwaarloos het dat ons sulke ekstreme stappe moet neem wat die lewens van Suid-Afrikaners in gevaar stel.”

In die mediavrystelling wat na bewering uitgereik is deur Oscar Skommere, die algemene sekretaries van SAPU, word die rede vir die voornemende staking aangedui as die laaste uitweg omdat die bestuur van die Suid-Afrikaanse polisiediens gefaal het om ’n ooreenkoms van 2007 na te kom.

Daarvolgens sou salarisskale van die personeel van vlak 3 en 4 tot salarisvlak 5 verhoog word.

Daarin word die vergoedingspakkette van die oproepsentrum-operateurs as ’n belediging beskryf.

“Ons is jammer vir slagoffers van misdaad wat more 10111 gaan bel.”

Slegs werknemers van die onderskeie oproepsentrums mag aan die staking deelneem. In ’n kennisgewing wat deur die kantoor van die adjunk nasionale kommisaris, lt-genl BC Mgwenya, uitgereik is, sal werknemers wat aan die staking deelneem, nie skuldig aan wangedrag bevind word nie.

Die beginsel van “geen werk, geen betaling” sal wel toegepas word.