Manstudente mag nou oorslaap in een van die Universiteit Stellenbosch se vrouekoshuise.

Die vrouekoshuis Nemesia het Woensdag in ’n verklaring bekendgemaak dat hulle manstudente vir ’n proeftydperk gaan toelaat om in dié koshuis oor te slaap.

“Jare lank het man- en vrouekoshuise ongelyke standaarde gehad wat besoektye en oorslaapbeleid betref. In die lig van die huidige diskoers van transformasie en inklusiwiteit neem Nemesia-vrouekoshuis standpunt in,” het die huiskomitee in die verklaring gesê.

Die koshuis wil glo standpunt inneem om die “ongegronde beleid” oor besoektye en die oorslaap van gaste te verander.

“Die huis erken deur net vroue toe te laat om oor te slaap en mans net toe te laat om op sekere tye besoek af te lê, sit ons ’n verkragtingskultuur en heteromatiwiteit voort en dra by tot patriargie,” lui die verklaring.

“Met dié gewaarwording is ons trots om aan te kondig behalwe vir ons reeds verlengde besoektye, sal Nemesia-vrouekoshuis die eerste wees wat ’n toetsperiode het waartydens mans kan oorslaap.”

Dié toetsperiode begin op Vrydag 19 Augustus. Dit is nog nie duidelik presies hoe die toetsperiode gaan werk nie.

“Ons glo werklik dié klein verandering sal help om die weg te baan na die getransformeerde universiteit waaroor ons almal droom.”

Nemesia se primaria, Anja Burger, het aan Huisgenoot bevestig die koshuis gaan manstudente vir ’n proeftydperk toelaat om oor te slaap.

Man- en vrouestudente in dieselfde koshuis is egter nie ’n ongewone verskynsel nie. Op Stellenbosch word onder meer Metanoia en Huis De Villiers deur mans en vroue bewoon.

Die Universiteit Stellenbosch is om kommentaar genader. Dit sal bygewerk word sodra dit ontvang word. Nog kommentaar van Nemesia se primaria sal ook bygewerk word.