Donald_Trump_by_Gage_Skidmore_2

Hoewel dié sakeman gereeld die wenkbroue laat lig met beweerde seksistiese opmerkings, verregse idees en omstrede planne wat kwessies soos immigrasie en terrorisme betref, blyk dit voorspellings dat hy nie president gaan wees nie kan verkeerd wees.

Teen Woensdagoggend omstreeks 09:18 het hy reeds 266 kieserstemme teenoor Hillary Clinton, die Demokrate se kandidaat, se 218 gehad. Die wenner benodig 270 kieserstemme. Die Amerikaanse koerant die New York Times het voorspel daar is 'n 95 persent kans dat Trump gaan wen.

Hoewel Trump se presidentskap beslis nog nie 'n uitgemaakte saak is nie, wonder die wêreld steeds waarom hy soveel meer steun gekry het as wat verwag is.

"Ek dink dit is duidelik dat die voorlopige stem-voorspellings ondoeltreffend was om werklik te wys hoeveel steun Trump en Clinton onderskeidelik het," sê die onafhanklike politieke ontleder Daniel Silke.

"Dit het nie die hordes versteekte Trump-ondersteuners in ag geneem nie," sê hy, "en daar is heelwat van hulle wat gedurende die aanloop stil was maar tog op die dag in Trump se guns gestem het."

Daniel vermoed party mense het nie voorheen luidkeels erken dat hulle tog vir Trump verkies nie, omdat daar soveel omstredenheid rondom hom is.

"Maar die wêreld het vergeet hoe onaantreklik Clinton as 'n kandidaat is. Sy kon dit nie regkry om haarself los te maak van die sogenaamde establishment nie."

Daniel sê dié geval stem baie ooreen met die Brexit-stem vroeër vanjaar, waar die Verenigde Koningkryk ingestem het om hulself los te maak van die Europese Unie, al het almal geglo dit sal nie tot op hierdie punt kom nie.

"Dit wys dat Amerikaners beslis nie die Clinton-dinastie wil voortsit deur oud-president Bill se vrou as president aan te wys nie. Daar is 'n wêreldwye beweging om teen gevestigde beheer vas te skop."

Daniel sê hierdie neiging is deel waarvan die Brexit-stem gebeur het en waarom lande soos Frankryk, Italië en die Fillipyne ook toenemend teen die heersende bestuur gaan.

In Amerika het meningspeilings aangedui mense stem vir Trump omdat hulle sy beleid wat belasting betref verkies, glo hy gaan kwessies soos terrorisme in ISIS daadwerklik vasvat en tradisionele waardes ondersteun.