IN Amerika was hulle die volmaakte paartjie, met vier gelukkige dekades saam in ’n huwelik sonder ’n enkele smet soos dié van die Clintons. Daar was selfs nog romanse. Wie sal ooit daardie passievolle soen vergeet wat Al Gore in 2000 tydens sy presidensiële veldtog voor miljoene pare oë metTipper gedeel het?

Maar die paartjie het hul bewonderaars toe liederlik teleurgestel met hul onlangse aankondiging dat hul paadjies gaan skei, en dit kort nadat hulle in Mei hul 40ste huweliksherdenking gevier het.

Hulle het saam besluit hul huwelik is verby, het die 62-jarige Al, voormalige adjunk-president van Amerika en beroemde omgewingsaktivis, in ’n e-pos aan vriende geskryf. En hulle beplan nie om vuil wasgoed in die openbaar te was nie.

Tog klap die tonge nou lustig, want êrens is daar ’n slang in die gras.

Al het ’n skelmpie, het een Amerikaanse poniekoerant verkondig, terwyl ’n ander selfs besluit het dis ’n gay minnaar. Maar die een storie wat maar net nie wil gaan lê nie, is dat Al die afgelope twee jaar al ’n vuurwarm verhouding het met ene Laurie David.

Dié 52-jarige mede-groene was die vervaardiger van An Inconvenient Truth, Al se Oscar-bekroonde dokumentêre prent oor aardverhitting wat in 2006 uitgereik is en hom ’n Nobel-vredesprys besorg het.

Laurie en haar eksman, die Amerikaanse televisievervaardiger en komediant Larry David – die meesterbrein agter die gewilde programme Seinfeld en Curb Your Enthusiasm – is die jaar daarna geskei nadat sy glo ’n affair met ’n getroude man gehad het.

Dié wat die voormalige presidensiële kandidaat van die Demokratiese Party ken, sluk maar swaar aan dié skinderstorie. Daar is nie sprake van buite-egtelike verhoudings nie, sê hulle. Al en Tipper is nog goeie vriende en het selfs planne om die somervakansie saam deur te bring.

Die ware rede agter die egskeiding is Tipper (61) se jaloesie, sê hulle. Sy het oor die jare vermoed haar man het ’n rits minaresse, onder hulle ’n lid van die kabinet, ’n masseuse, ’n Hollywood-aktrise en ’n 23-jarige rasieleier.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 1 Julie 2010.