Wat kan ons alles dié Woensdag uit die minister van finansies Pravin Gordhan se 'mini-begroting' wys raak?

Sal daar byvoorbeeld sprake wees van meer geld vir hoër onderwys ná die #feesmustfall-krisis van die afgelope maande? En wat van die knaende gerugte oor nog hoër belasting? Gaan ons beleërde minister van finansies sterk staan teen spandabelrigheid en dié wat die staatskas wil plunder?

Een ding is beslis: 'n SA mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) is lanklaas so fyn dopgehou. Wat kan jy van Woensdag se parlementêre mini-begroting verwag?

Vanjaar se MTBR geniet besondere aandag van beleggers en die groter samelewing weens SA se huidige ekonomiese situasie en die verwarrende politieke klimaat, reken Lesiba Mothatha, hoofekonoom van Investment Solutions.

Daar's groot angstigheid oor watter rigting die land se geldsakebeleid vorentoe gaan inslaan. 'n Sleutelvraag is of Suid-Afrika ná jare van versigtige fiskale bestuur op 'n meer populistiese geldsake-benadering afstuur, wat 'n nog vinniger groeiende skuldlas sal beteken, sê Lesiba.

Die MTBR sal 'n invloed hê op die hersiening van SA se kredietgradering teen einde vanjaar, sê Ian Cruickshanks, hoofekonoom van die Instituut vir Rasseverhoudinge.

"As dit toon dat die regering beduidend meer bestee as wat dit in belasting in, verhoog die waarskynlikheid dat die land na rommelstatus afgradeer sal word. En dít sal ons toegang tot buitelandse kapitaal kwaai knou. Baie buitelandse batebestuurders sal byvoorbeeld nie in SA staatseffekte en aandele kan belê nie."

Só sal Suid-Afrika meer moet leen en teen hoër rente, en so die nasionale skuldlas beduidend verhoog.

As die MTBR laat blyk die regering kon nie, soos vroeër onderneem, terugsny op lopende uitgawes nie, sê Ian, "mik ons na nog groter begrotingstekort-probleme.

"'n Belangrike item om dop te hou, is die regering se lone- en salarisrekening. As daardie rekening weer styg, gaan [die graderingsagentskappe] sê: 'Hierdie ouens is nie ernstig oor kostebesnoeiing nie. Hulle wil steeds wild en wakker bestee...'

"Daarom as die begrotingstekort sê maar tot 4% of 4,5% van bruto binnelandse produk styg, beteken dit moeilikheid met 'n hoofletter M..." (Die algemene mikpunt is nie meer as 3% nie.)

Vir verbruikers sal 'n kredietafgradering onder meer hoër rentekoerse en skerp stygende lewenskoste in die algemeen beteken, sê Ian.

'n Besondere uitdaging vir SA beleidsmakers vanjaar is ekstra finansiering vir hoër onderwys, sê Lesiba. Maar Ian twyfel min of Gordhan groot beloftes kan maak.

"Feit bly, SA het nie nou die geld nie..." In elk geval nie vir gratis hoër onderwys vir almal nie. Die boodskap Woensdag mag dalk wees die staat wil ten minste nog geld daarvoor loswikkel deur terug te sny.

"Die vraag is waar. Dit sou verskriklik wees om maatskaplike toelaes te sny. Miskien kan hulle op skoolonderwys besnoei om meer vir tersiêre onderrig te gee. Maar dan help jy ook die een ten koste van die ander..."

Hoër belasting is wel "stewig op die tesourie se tafel", meen Lesiba. Daar word moontlik nou na 'n groter inkomste uit persoonlike inkomstebelasting gekyk, deur belastingkategorieë aan te pas, of selfs 'n regstreekse welvaartbelasting.

"Die 'sagte opsie' vir die regering sal wees om die hoogste belastingkoers te verhoog,'' sê Ian. "Die ouens wat die meeste verdien, betaal dus nog meer en SA het dan weer 'n superbelastingkategorie [soos in die 80's]. Maar as dit gebeur jaag jy die land se topverdieners weg.'' En dit knou welvaartskepping.

'n Ander opsie sou wees om die inkomstevlak vir die heffing van die hoogste belastingkoers te verlaag.

"Nog 'n alternatief, makliker en vinniger, is om te sê BTW gaan met een of twee persent verhoog word." Maar dit sal armes die swaarste tref, en hulle maak die meerderheid van die kierserspubliek uit.

"Die groot vraag bly waar min Pravin die geld vir alles gaan kry," sê Ian. Dit sal baie moeilik wees om enige bestedingsbronne te vind  "met 'n ekonomie wat omtrent glad nie groei nie, en wanneer 'n president soos ons s'n nietemin sê hy wil 'n nuwe straler van biljoene hê.

"Die minister gaan omtrent 'n towerstaf nodig hê..."

Wat van die verliesmakende staatsmaatskappye?

Ná alles moet ons onthou die minister kan nie werklik nou al groot stappe neem nie; die MTBR gaan eerder oor beleidsformulering, verduidelik Ian. As ons dus wel groot veranderings gaan sien, "kom dit eers in die hoofbegroting in Februarie.

"Die minister kan wel Woensdag sê waarna hulle alles kyk, byvoorbeeld dat besteding op staatsmaatskappye teruggesny moet word en hulle nie meer groot regeringswaarborge soos die SAL gaan kry nie."

En voordat 'n mens selfs van opsies soos privatisering praat, sal ons natuurlik eers moet sien of min Gordhan, wat begin November dié wat hom wil uitwerk in die hof aanvat, wel nog in Februarie daardie begrotingsrede gaan lewer.