En waar ’n besluit oor kredietgradering teen einde vandeesweek stellig die belangrikste is, moet hulle ook oplet na ’n paar ander verwikkelinge.

Die jongste inflasiekoers-syfers word teen Woensdag verwag en terselfdertyd ook inflasievooruitskattings vir die afsienbare toekoms, sê die ekonoom Ulrich Joubert uit Gauteng.

“Die verwagting is dat die inflasiekoers weer in die volgende jaar of wat laer kan neig en binne die teikenband van 3-6% sal wees.

“ ’n Laer gemiddelde inflasiekoers sê gewoonlik vir die Reserwebank rentekoersverhogings is onnodig.”

Die algemene gevoel is dus dat die Reserwebank darem Donderdag ’n bietjie goeie nuus sal hê vir almal wat rente op skuld betaal. “Daar behoort nie ’n verandering te wees nie.

“Vrydag maak die graderingsagentskap Moody’s weer bekend wat hy met Suid-Afrika se kredietgradering gaan doen.

“Moody’s het ons land tans op twee kerwe bo rommelstatus (nie-beleggingsgraad). Selfs as hulle ons dus met een vlak afgradeer, sal ons volgens Moody’s steeds beleggingsgraad wees.

“Dit behoort dus nie dadelik ’n groot invloed op die finansiële wêreld te hê nie.”

Maar dit kwel Ulrich wel dat so ’n stap dan bespiegeling oor die ander twee groot agentskappe, Standard & Poor’s en Fitch, se planne vir ons kan aanvuur. Daardie twee het Suid-Afrika reeds op net een kerf bo nie-beleggingsgraad, dus kan ’n negatiewe stap deur Moody’s “eintlik die moontlikheid verhoog dat S&P en Fitch ons begin Desember na rommelstatus afgradeer”.

Rommelstatus sal die hele land uiteraard negatief beïnvloed. Dit beteken Suid-Afrika “moet ’n groter premie betaal om geld in die buiteland te leen. En as ’n regering dan dermiljoene gaan leen vir byvoorbeeld ’n kernkragprojek, maak dit daardie projek soveel duurder . . . as Eskom geld teen duurder koerse gaan leen om sulke sentrales te bou, betaal ek en jy as verbruikers natuurlik meer vir elektrisiteit.”

Rommelstatus, verduidelik Ulrich, beteken in die kort termyn stellig ’n nog swakker rand en dat verbruikers uiteindelik duurder sal betaal vir alles wat ingevoer word, insluitend kos om moontlike misoeste aan te vul, en mettertyd brandstof, al is daar tans nog ietwat van ’n oorverhaling daarop.

Om ’n wankelende rand te beskerm, kan die Reserwebank dan ook mettertyd rentekoersverhogings oorweeg.