eskom foto

Die opspraakwekkende heraanstelling van die omstrede Molefe, ’n sentrale figuur in die openbare beskermer se staatskapingsverslag nadat hy laas jaar onder ’n wolk van korrupsiebewerings bedank het, is in wese die mees kostedoeltreffende uitweg met die oog op die staatskas; ’n manier om duur regsaksie te vermy. So het Lynne Brown, minister van openbare ondernemings nou die jongste skokbesluit van die Zuma-regering op ’n mediakonferensie verduidelik.

Molefe is nog nie aan al daardie bewerings rakende ’n onbehoorlike verhouding met die Guptas skuldig bevind nie. Dit is die president se voorreg om ’n kommissie van ondersoek daarna in te stel . . . en eintlik het Molefe voorheen sy werk gedoen . . . “die ligte aan gehou en Eskom gebring waar dit vandag is”, het Brown geskerm.

Dat dit ’n goeie plek is, sal baie mense betwis. Maar wat sit regtig agter die besluit wat soveel politieke en burgerlike organisasies laat vuur spoeg het?

Die ANC self het die stap as “roekeloos” verdoem. Die “waarnemings” oor Molefe in die staatskapingsverslag is nie ter syde gestel nie en hy het nog nie soos belowe sy naam in ere herstel nie. Sy heraanstelling “sonder dat die kwessies opgelos is”, spreek dus van onverskilligheid oor die publiek se “woede oor wat lyk na ’n lamsakkige benadering van die regering wat daadwerklike optrede teen korrupsie betref”.

Die drukgroep Save South Africa was meer op die man af: “Dit is ’n klassieke Zuma-Gupta-skuif. Ná hul mislukte poging om Molefe as minister van finansies aan te stel – sy aanstelling as parlementslid met die oog daarop was ’n siniese stap na staatskaping – moes hulle van strategie verander. En nou blyk dit die volgende stadium is om hom terug te kry in Eskom, waar, met die beskerming van die staatsmaatskappy se ewe omstrede voorsitter, Ben Ngubane, hy toesig oor twyfelagtige ooreenkomste van etlike biljoene rand sal hervat.”

Molefe was allereers nooit geregtig op ’n R30 miljoen-uitbetaling nie, sê die organisasie, “en om voor te stel hy moet terugkeer na Eskom omdat sy goue handdruk geblokkeer is, is ’n belediging vir die nasie se intelligensie.”

Die besluit is ook onder meer deur Cope, ander opposisiepartye en vakbonde soos Saftu en die NUM verdoem. “Dit is nou baie duidelik dat die Guptas Suid-Afrika beheer,” het Dennis Bloem, Cope-leier, prontuit gesê.

Die gedagte is blykbaar dat Molefe nou moet terugkom, sy kontrak met Eskom voltooi en dan aftree en ’n pensioen kry. Maar die hele situasie lyk vir hom vreemd, verneem ons van prof. Dirk Kotzé, politieke wetenskaplike van Unisa. Daar is selde “pensioenuitbetalings by ’n kontrak, en nog minder so ’n groot bedrag vir ’n vyfjaarkontrak”. Molefe het net 18 maande van sy vyfjaarkontrak voltooi voor hy bedank het.

Nog ’n verklaring vir die skokbesluit is inderdaad dat “pres. Zuma hom aanvanklik as minister van finansies wou aanstel – hy het dit trouens self laat blyk – maar ’n alternatief moes oorweeg toe lede van die ANC se topses hom gekeer het. Dus het hy gestrand gesit met Molefe (as parlementslid), en nou is sy heraanstelling die alternatief om hom in ’n hoëprofiel-pos terug te kry,” meen Kotzé.

Derdens het Eskom, wat hul vermeende bande met Gupta-belange betref, in die moeilikheid begin beland, sê hy. So is die kernkragprojek ná die onlangse Wes-Kaapse hooggeregshof-uitspraak vir eers uitgestel, en daar is ál meer vrae oor Eskom en steenkoolverskaffing deur die Guptas se Tegeta-myngroep – druk dat die “kontrakproses tussen Eskom en Tegeta, oftewel die Guptas, hersien moet word”. (Duduzane Zuma, die president se seun, is hier ’n hoofvennoot van die Guptas.)

“Die verhouding tussen Eskom en die Guptas raak dus al meer ingewikkeld,” verduidelik Kotzé, en bepaalde belanghebbendes “meen dalk Molefe is die persoon wat hierdie haakplekke kan uitsorteer . . . wat die huidige waarnemende hoof, Matshela Koko, nie behoorlik kon doen nie”. Laasgenoemde, self tans onder die loep weens beweerde Eskom-tenderonreëlmatighede rakende sy stiefdogter, het juis nou met verlof gegaan.

Saftu herinner ook in ’n verklaring dat Molefe nog geen geloofwaardige verduideliking verskaf het vir sy tientalle oproepe aan die Guptas en sy etlike vermeende besoeke aan Saxonwold (waar die familie woon) nie. Hulle verwys ook na Ngubane se opmerking oor Eskom se gesukkel om steenkoolaankope goedgekeur te kry en dat die kragverskaffer die “vaardighede nodig het wat ons die laaste keer gered het”. En Saftu vra nou of dit dan beteken Ngubane hoop Molefe sal sulke omstrede steenkoolaankope fasiliteer.

Die Molefe-skok kan verklaar word deur een, maar dalk ook deur ’n kombinasie van al drie faktore waarna hy verwys, sê Kotzé. Een ding is seker: Die hele ding wys weer “hoe sentraal Eskom in die verhouding tussen Zuma en die Guptas is”. Hy vermoed die Guptas probeer ook hul belange na die staat se wapentuigbedryf uitbrei, moontlik deels omdat wetgewing media-ondersoeke daar sal bemoeilik. “Maar in dié stadium lyk Eskom nog na die enkele belangrikste instelling in die Zuma-Gupta-verhouding.” Intussen spreek onder meer die ANC se verdoemende reaksie op Molefe se aanstelling nou van die verdeeldheid tussen die Zuma-kamp en die res, voeg Kotzé by. “Die verskillende groeperinge in die ANC – Luthuli-huis, die parlementêre kant en die Zuma-leierskorps – praat nie met mekaar nie. Daar was nie koördinasie met dié skuif nie . . . dit het waarskynlik net deur die ‘Zuma-kanaal’ gegaan. “Dit wys ook die Zuma-groep raak desperaat. Hy is nou ’n klomp van sy gunstelingmense in sleutelposte kwyt, byvoorbeeld Hlaudi Motsoeneng by die SAUK, Berning Ntlemeza by die Valke en waarskynlik Shaun Abrahams by die nasionale vervolgingsgesag.” Sy strategie om sy invloed uit te brei deur hom met lojaliste in sleutelposisies te omring, werk dus nie meer so goed nie, en dalk is Molefe se heraanstelling ’n poging om “iets te probeer terugwin van wat hy verloor het”.

So het Twitter op die hele debakel gereageer