“’n Appel ’n dag laat die dokter wag. . . pfffft. . . Ek wens!! Wel, hier gaan ons?” het ’n bang Francois Saterdag op Instagram met sy aanhangers gedeel.

Kort daarna het Francois nog ’n foto vanuit sy hospitaalkamer gedeel. “Op pad oorlog toe met hierdie ‘susters’. . . Whoooohoooo hier gaan ons. . .” staan daarby geskryf.

Maar wat het dan gebeur? "Ek het my neus laat regbreek," verduidelik Francois laggend aan Huisgenoot. Dit klink dalk snaaks, maar dis tog g'n grap nie meen die akteur. Sy neus is voorheen gebreek en het skeef teruggegroei. Dit het egter nou so erg geword dat dit sy spel en asemhaling begin beïnvloed het.

“Ek sit nou met twee sneesdoekies in my neus,” skerts hy. Lees ook: Vir die Voëls se amptelike lokprent! Francois wou nie uitbrei oor hoe of wanneer hy sy neus gebreek het nie, maar stel ons gou gerus toe ons hom bekommerd daaroor uitvra. “Ek is 100%,” sê hy beslis. “Ek haal sommer klaar beter asem.” Francois speel Sampie de Klerk, die manlike hoofrol, in Huisgenoot se eeufees-fliek, Vir die Voëls, wat 25 November 2016 uitgereik word.

Al is hy vir twee weke afgeboek, sê Francois die susters in die hospitaal het darem die aand wat hy in die hopsitaal moes deurbring sy hand "styf vasgehou."

Ons hoop jy voel binnekort stukke beter, Francois!