Jason Rohde keer terug na sy dogter in Johannesburg. Haar pa se afwesigheid die afgelope paar weke was vir die 18-jarige Kate Rohde baie swaar.

Jason Rohde (47) het Vrydag in ’n verklaring gesê sy bel hom dikwels en vra: “Waarom het Pa my verlaat?” Dié verklaring is in die Stellenbosse landdroshof deur Jason se regsverteenwoordiger, adv. Ross Mc Kernan, voorgelees. Dit was deel van Jason se aansoek om sy borgtogvoorwaardes aan te pas.

Jason word aangekla van die moord op sy vrou, Susan.

Sy is in Julie dood aangetref in die badkamer van hul hotelkamer op die Spier-wynlandgoed. Daar is aanvanklik gedink dat sy haar eie lewe geneem het.

Jason het aansoek gedoen om terug te keer na Johannesburg. Hy moes sedert sy borgtog in Augustus toegestaan is, in die Wes-Kaap bly. Hy het by sy suster en haar man in Melkbosstrand tuisgegaan en moes drie keer per week by die polisiekantoor in Melkbosstrand aanmeld.

In Jason se verklaring het hy gesê sy ouers is bejaard en is nie in staat om na ’n tiener om te sien nie. Kate moes daarom soms by vriende tuisgaan en het eindelik in die skool se koshuis gaan bly. Sy ander twee dogters is in die Oos-Kaap op skool.

Jason het ook in sy verklaring gesê dit is noodsaaklik vir hom om voort te gaan met sy werk aangesien hy afgedank kan word as hy te lank van die werk af wegbly.

[caption id="attachment_138214" align="alignnone" width="600"]Foto: Misha Jordaan Jason sien ook uit daarna om terug te keer na sy werk. Foto: Misha Jordaan[/caption]

Die staatsaanklaer, Carien Teunissen, het egter aangevoer Jason, wat die uitvoerende hoof is van Geffen International Realty Franchises, ’n afdeling van Sotheby’s, is tydelik geskors. Sy het verwys na ’n e-pos van Lew Geffen, wat die skorsing aan haar bevestig het.

Tog sê Jason se regspan dat Jason nie van enige skorsing bewus is nie. Jason het glo in Augustus ’n e-pos van sy werkgewer ontvang wat wel gesê het dat hy op “langverlof” is.

Volgens Jason wil hy terugkeer na Johannesburg om sy lewe te “herbou” en sy dogters te beskerm.

Landdros Gregg Jacobs het Jason se aansoek toegestaan en die saak tot 26 Januarie 2017 uitgestel vir verdere ondersoek.