So het Ferdinand Hartzenberg, Joost se prokureur, Dinsdagmiddag gesê in reaksie daarop dat sy kliënt Vrydagoggend 'n hofaansoek laat bring sodat sy geld uitbetaal kan word.

Dié aansoek kom nadat die fonds aangedui het hulle wil appelleer teen waarnemende regter Lester Adams se uitspraak verlede week. Die uitspraak bepaal die fonds moet R385 665 aan Joost betaal, asook sy regskoste. Luidens die uitspraak moet Joost vergoed word vir die bedrag wat hy in Robert Klinkenberg, sy oorlede prokureur, se trustrekening inbetaal het om na sy behoeftes om te sien.

Met Klinkenberg se dood was daar na bewering 'n tekort van byna R200 miljoen in sy trustrekening. Klinkenberg se lyk is op 3 Desember buite Magaliesburg met 'n skietwond gekry.

“Hierdie geld het hy nodig om hom te versorg en wat ná sy dood oorbly, gaan na sy kinders. Joost het nie meer 'n inkomste nie. Hy het wel bates, maar hy kan nie geld leen nie, want hoe gaan hy dit terugbetaal?” het Hartzenberg aan Huisgenoot gesê.

Adams se bevel word opgeskort omdat die Getrouheidsfonds beplan om te appelleer. Vrydag se aansoek handel daaroor dat Adams bevind sy bevel word nie deur die beplande appèl opgeskort nie. Die fonds het 15 dae vanaf verlede week se bevel om 'n kennisgewing van appèl by die Pretoriase hooggeregshof in te dien.

“Joost is gespanne hieroor en stres vererger die simptome (van motorneuronsiekte, wat in 2011 by Joost gediagnoseer is)," het Hartzenberg gesê.

Hy het gesê Joost, wat 24 uur per dag versorg word, se mediese onkoste is hemelhoog. Hartzenberg het gesê Joost bly egter positief. “Sy kop makeer niks.”