Theuns Jordaan kon nie bewys dat hy as ’n stigterslid van Afrikaans is Groot (AIG) die reg het om by hierdie jaarlikse musiekkonsertreeks op te tree nie.

theunsinhof

Daarby hou die kontrak wat hy onderteken het om by AIG op te tree geen water nie omdat die twee voorwaardes wat hy gestel het nie nagekom is nie. Boonop het hy die kontrak twee dae te laat onderteken.

Dit is die redes wat waarnemende regter Corrie van der Westhuizen vanoggend in sy geskrewe uitspraak gegee het oor waarom hy die Soos Bloed-sanger se aansoek van die hand gewys het.

Theuns, geklee in ’n swart pak en swart hemp, het buite die hof gesê hy kan nie nou enige kommentaar lewer nie.

Hy het vroeër vandeesweek in die hooggeregshof in Pretoria ’n dringende aansoek gebring waarin hy gevra het dat AIG se besluit dat hy nie meer deel van die konsert gaan wees nie omgekeer moet word.

“As die applikant (Theuns) geglo het hy het die outomatiese reg om by AIG op te tree en dat geen kontrak nodig is nie, is dit onduidelik hoekom hy op 29 September 2016 die kontrak geteken het,” skryf die regter in sy uitspraak.

“Die ‘reg’ om aan AIG deel te neem is gegrond op ’n aanname dat stigterslede geregtig is om outomaties deel te neem. Hy vertrou verder daarop dat hy gebruik is in bemarkingsmateriaal. Hy het ook tot op 3 Oktober nog geglo hy is deel van die konsert. Die aannames van die applikant is sonder meriete.

“Hy het kontrakte onderteken vir die konserte van 2012 tot 2014. Hy het net in 2015 nie geteken nie. Hy het vanjaar ook geteken. Dit is duidelik sy aanname dat daar geen kontraktuele verbintenis vir die konsert is, is ook sonder meriete. Sedert 2012 is deelname aan die konsert deur ’n kontrak verseker.”

Volgens die regter is Theuns op 27 September gewaarsku as hy die kontrak nie dieselfde dag nog teken nie, gaan hy nie aan AIG deelneem nie. Theuns het wel die kontrak geteken, maar eers twee dae later. Toe hy op 3 Oktober ingelig is hy gaan nie deel hê aan AIG nie, het presies gebeur wat hy gesê is gaan gebeur.

Deurdat Theuns twee voorwaardes gestel het waaraan sy handtekening onderworpe was, het hy self gemaak dat die kontrak ongeldig is toe die voorwaardes nie nagekom is nie.