LAAT ons onsself net daaraan herinner: Drie jaar gelede het die Springbokke nog die Wêreldbeker gewen. Verlede jaar die Drienasies. En, vir die eerste keer in hoeveel dekades, die Britse en Ierse Leeus verslaan.

Vanjaar het ons die Franse, die Sesnasies-kampioen, ’n deftige pak slae gegee, en net twee maande gelede nog het die Bulle en die Stormers hul Australiese en Nieu-Seelandse teenstanders skoon van die veld gespeel in die Super 14-toernooi, die hele pad eindstryd toe.

En nou? Waar het die wiele dan langs die pad afgeval?

Hoe kan dit wees dat die trotse Bokke van hul ses Drienasies-wedstryde net een kon wen? En in die proses meer drieë afgestaan het as enige span ooit tevore in die geskiedenis van die toernooi?

Skielik lyk die pronk-Bokke meer na druipstert-Bokke as na ’n span wat volgende jaar weer die Wêreldbeker wil behou. En die duiwel is los in rugbyland.

Net soos in 2006, toe Jake White se Bokke al hul wegwedstryde in die Drienasies-toernooi verloor het, eis baie ondersteuners nou die afrigter Peter de Villiers se kop.

Peter se posisie is in werklikheid nog meer benard as Jake s’n destyds. Jake se Bokke het darem nog hul tuiswedstryde gewen, terwyl Peter s’n op eie bodem ook gefaal het.

Voor in die koor vir Peter se kop is nogal Jake self. Die oud-Bokafrigter is gereed om by Peter oor te neem en te red wat te redde is voor die afskop van volgende jaar se Wêreldbeker in September in Nieu-Seeland, het hy te kenne gegee.

“Ek het reeds die Saru-president, Oregan Hoskins, gekontak, maar hy hou aan sê hy moet die idee met sy uitvoerende raad bespreek. Wel, ek sê ek is beskikbaar, want wat ons die afgelope paar maande by die Springbokke gesien het, is kommerwekkend,” het Jake aan The Times gesê.

Maar dis ook al ’n ou Suid-Afrikaanse laai dié: Wanneer dinge skeef loop, skop die afrigter uit. So is Jake se kop in 2006 geëis, en net die jaar daarna het hy die Bokke tot wêreldglorie aangevoer.

Wat is fout, en wat moet gedoen word? Dis waaroor almal nou praat...

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 16 September 2010