Hoewel dit vir mense in ’n demokrasie belangrik is om idees en inligting uit te ruil en van mekaar te verskil, is haatspraak uitgesluit by vryheid van spraak.

Jy kan daarom nie jou vryheid van spraak misbruik om haat aan te hits of skade te berokken nie, verduidelik prof. Deon Rossouw, uitvoerende hoof van die Etiekinstituut.

“Vryheid van spraak is ’n basiese vryheid en word wyd erken. Maar dit is nie ’n absolute reg nie. Dit ding altyd mee met ’n klomp ander regte, soos die reg op lewe, veiligheid en ’n menswaardige bestaan,” sê hy.

Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, het vroeër die visumvrywaringstatus van past. Steven Anderson en ander lede van sy groep opgehef en hulle ingevolge die Immigrasiewet tot ongewenste persone laat verklaar. Onder normale omstandighede word Amerikaners nie genoodsaak om ’n visum vir toegang tot Suid-Afrika te bekom nie.

Steven het vroeër vanjaar opslae gemaak met sy homofobiese uitlatings ná ’n skietery in die deelstaat Orlando. “Ek moedig nie geweld aan nie, maar die Bybel sê immers homoseksuele mense moet doodgemaak word.

“Die goeie nuus is daar is vyftig minder pedofiele in die wêreld, want dié gays is walglik en pervers,” sê hy in sy omstrede video.

“Haatspraak is ’n baie spesifieke vorm van spraak en moet nie verwar word met gewone spraak nie. Ons wil oop, robuuste gesprekke met mekaar hê en ons moet verskil van mekaar. Dít is ook goed vir demokrasie,” sê prof. Christi van der Westhuizen, ’n sosiologiedosent aan die Universiteit van Pretoria.

Sy sê haatspraak is “spesifieke spraak wat leed aanhits. Dit word dikwels uitgeoefen teenoor gemarginaliseerde groepe.”

Christi sê Steven se uitdruklike uitlatings dat gay mense doodgemaak moet word, is die duidelikste vorm van haatspraak.

“Ons moet in ag neem dat ons reeds ’n probleem het met moord op lesbiërs. En ons wil nie haatspraak invoer nie. Die Wet op Immigrasie gee die minister die mag om hulle (Anderson en sy gevolg) toegang te weier.

"Anderson is aanvanklik toegelaat op voorwaarde dat hy nie haatspraak hier mag pleeg nie, want dit is teen die Grondwet en die Gelykheidswet. Hy het uitdagend daarop gereageer, wat die minister genoop het om sy diskresie te gebruik en hom toegang te weier.”

Deon sê ook dit gaan nie daaroor dat Steven se siening van ander groepe in Suid-Afrika verskil nie. “Dit gaan daaroor dat hy sê ’n ander groep moet kwaad of skade aangedoen word omdat hulle verskil.”

Steven, wat ook nie die Verenigde Koninkryk mag besoek nie, is ook Botswana belet.