Op 1 April moet jy ligloop vir almal wat jy ken en moet jy alles wat jy in die media lees (of sien) met ’n knippie sout inneem.

Dit is ’n dag wat wêreldwyd met humor gevier word en waar geliefdes poetse bak op mekaar. Ook die media gryp hierdie dag aan en jaag gewoonlik die publiek se bloeddruk op met vals berigte.

Maar waar kom hierdie eeue-oue tradisie nou eintlik vandaan? Niemand weet nie. Die oorsprong van 1 April as gekkedag, wanneer mense poetse bak en mekaar vir die gek hou, bly ’n raaisel.

Sekere kenners meen die dag het begin om die verandering van seisoene te vier. Ander meen gekkedag is van antieke kulture afkomstig toe die Romeine en Hindoes se kalender op 1 April begin het en hulle Nuwejaarsdag op hierdie dag gevier het.

Maar in 1582 het pous Gregory XIII opdrag gegee dat die kalender vervang word met ’n nuwe een, wat Nuwejaarsdag op 1 Januarie vier.

Baie mense het glo nie geweet van hierdie verandering in die kalender nie of het dit bloot geïgnoreer en het aangehou om Nuwejaarsdag op 1 April te vier. Ander mense het hierdie groep begin uitlag en hulle begin spot. En so het hierdie gebruik van 1582 na Europa en daarna na die res van die wêreld versprei.

Gekkedag in Suid-Afrika

Die Suid-Afrikaanse media het vandag behoorlik uitgehaal en gewys wat hulle vir vanjaar se gekkedag kan regkry. En so het hulle talle lesers geflous. ? Timeslive het berig pres. Jacob Zuma het vanjaar by ’n kollege in Indië geregistreer om ’n B.Com.-graad te verwerf. Zuma is glo gemotiveer nadat Julius Malema sy BA-graad verower het.
? EWN het berig die oud-Springbokafrigter Heyneke Meyer gaan sy terugkeer na die Bok-span maak as afrigter.
? ’n Plaaslike koerant, Weslander in Vredenburg aan die Weskus, het berig Sanparke het besluit om Sylvester, die Karoo se Houdini-leeu, see toe te trek en hom in die Weskus Nasionale Park gaan vestig. Die park is glo klein en bewaarders sal makliker ’n ogie op die leeu kan hou wat so maklik ontsnap. ? Selfs kykNET het aanhangers van die gewilde reeks, Die Boekklub, onkant gevang.

Bronne: Wikipedia; www.history.com

Saamgestel deur Joanie Bergh

Ander stories op Huisgenoot.com

Kyk: Rocco de Villiers en Karen Zoid gaan jou lus maak om te tango

SA baba met ‘lekhart’ ontroer mense wêreldwyd

‘Ons honde kan skilder!’ Arbor en ‘Dog Vinci’ is ware Paw-casso’s

Vrou wat ‘bang was vir kos’ leef drie jaar lank net van braaihoender