Die wêreld het oor hom gegons, en hy was in Desember die onderwerp van vele grappies. Maar waar is Thamsanqa Jantjie nou?

Jantjie was die fop-gebaretolk wat in Desember verlede jaar gebare uitegdink het tydens oudpres. Nelson Mandela se gedenkdiens. Sy vrou, Siziwe Jantjies, vertel hy is al voor Kersfees in die Sterkfontein-hospitaal in Krugersdorp opgeneem.

Siziwe, wat haar man Thami noem, sê sy hou die huishouding met moeite sonder hom aan die gang. Sy bedryf onder meer ’n bed-en-ontbyt-onderneming by hul huis in Bram Fisherville.

Sy en haar drie kinders, ’n agtjarige en ’n tweejarige tweeling, voel eensaam sonder Jantjie.

“Maar ek kan nie met die dokters stry nie.”

Jantjie het bekendgemaak hy ly aan ’n skisofrenie nadat plaaslike en wêreldmedia hom gekruisig het oor sy kamma-gebaretaal.

Siziwe sê toe sy hom ontmoet, het sy geweet Jantjie is siek, maar dit het nie haar gevoelens vir hom verander nie. Jantjie was al lang tye in die hospitaal, en Siziwe weet nie hoe lank hy nog in die Sterkfontein-hospitaal sal wees nie.

“Ek kan nie met die dokters stry nie. As hulle sê hy moet daar bly, dan is dit so.”