Die waaghalsige rooftog in die suide van Indië word vergelyk met die Groot Treinrooftog in Engeland toe Ronnie Biggs en sy manne in 1963 met sowat R45 miljoen weggekom het.

Aan boord van die Indiese sneltrein van Salem na Chennai was 226 houers met $51 miljoen (sowat R689 miljoen) wat aan die Indiese sentrale bank behoort het. Die trein, met 19 waens, het Maandagaand om negeuur vanuit Salem vertrek. Die geldwa was die tweede wa ná die enjin. By Virudhachalam is van enjin verander en die geldwa het laaste in die ry van waens beland. In die wa net voor die geldwa was ’n span polisielede wat die geld sou oppas. Hulle was glo salig onbewus van wat gebeur het. Toe die bankamptenare die volgende oggend omstreeks 11:00 na die geldwa gaan om die houers af te laai, is hulle deur sonstrale binne-in die wa begroet.

Vier van die houers was oopgebreek. Een was leeg, van die ander halfleeg. Die vloer van die wa was vol geldnote. Meer as $750 000 (ongeveer R10,1 miljoen) word vermis. Die vermoede bestaan dat die rowers binne-in die wa weggekruip het voor die trein na Chennai vertrek het. Hulle het met behulp van ’n blaasvlam ’n gat in die wa se dak gemaak, groot genoeg vir ’n mens om deur te glip.

Luidens berigte het die rowers glo gegryp wat hulle kon, deur die gat in die dak ontsnap en êrens langs die pad van die trein gespring.

Hoewel dit net bespiegelings is, klink dit of tussen ses en agt mense moontlik in die wa was.

Die vermoede bestaan ook dat die span van inligting voorsien is deur iemand wat geweet het van die trein se vrag en roete.

Gemiddeld een keer per week word ’n wa vol gebruikte en beskadigde note na dele van Chennai gestuur om vernietig te word.

Die Indiese buitelandse bank (IOB) sê egter die gesteelde note is nutteloos.

“Wie dit ook al het, kan dit nie gebruik nie, behalwe as hulle dit tussen geldige note indruk en so van die hand probeer sit,” het ’n amptenaar van die bank gesê.

Ander groot treinrooftogte

Op 5 November 1870 het die eerste treinrooftog in die Wilde Weste plaasgevind. En dit was nie Jesse James nie. ’n Bende het die trein naby Reno, Nevada, oorgeneem. Hulle het met $41 000 in goue muntstukke weggekom. Maar die rowers is almal gevang of doodgemaak voor hulle hul buit kon geniet.

Op 14 Junie 1924 het die Newton-bende die meeste geld tot nog toe tydens ’n treinrooftog in Amerika gesteel. Dit het buite Chicago gebeur. Sewe maande later is die hele bende vasgetrek en gevonnis.

Hoewel die meeste treinrooftogte vir finansiële gewin aangepak word, was die Kakori-treinrooftog in Indië op 9 Augustus 1925 polities geïnspireer. Dit is deur ’n militante groep uitgevoer wat Indië van die Britse koloniale regering wou bevry.

Toe die trein op 7 Augustus 1963 die stasie by Glasgow verlaat, was ’n bende van 15 aan boord. Hulle het die trein tot stilstand laat kom by ’n rooi sinjaal waarmee hulle gepeuter het. Die bende het al die telefoonlyne in die omgewing gesny, maar hulle het soveel vingerafdrukke gelaat dat hul name kort voor lank bekend was. Ronald Biggs was een van die rowers. Die fliek The Great Train Robbery het hieruit gespruit.

Die grootste treinrooftog in Ierland het op 31 Maart 1976 plaasgevind toe die trein van Cork na Dublin beroof is. Sowat R35 miljoen is tydens die Sallins-treinrooftog gesteel. Dit sou ook tot die langste hofsaak in Ierse misdaadgeskiedenis lei: ’n volle 65 dae voor die verhoor in duie gestort het toe een van die drie regters sterf.

Bronne: channelnewsasia.com, timesofindia.com, bbc.com, mentalfloss.com, wikipedia.com, history.com