Sy woon dalk in ’n aftreeoord, maar koek en tee is nie hoe Pansy Ellis ’n mylpaal soos haar 81ste lewensjaar vier nie. Dié waaghalsige ouma van Henley on Klip, naby Meyerton in die suide van Gauteng, het onlangs gesorg dat haar groot dag sommer lank onthou sal word: deur op ’n hoogte van 8 000 ’n by ’n vliegtuig uit te spring!

En o, ja, daar was darem ’n valskerm en ’n ervare instrukteur betrokke om haar weer veilig op Moeder Aarde te kry . . .

[caption id="attachment_122346" align="alignnone" width="600"]gfhdfgh Pansy Ellis het vir haar 81ste verjaarsdag by 'n vliegtuig uitgespring. Foto: Verskaf[/caption]

“Eers toe ek by die vliegtuig se deur uit is, toe dink ek: Genade, wat doen ek?” vertel Pansy en lag. Ons drink ystee by haar huis in die aftreeoord terwyl ons gesels. Haar dogter Michelle Blignaut (50) en kleindogter Samantha Ellis (26) kuier saam.

Samantha, wat saam met ouma ’n tandemsprong uitgevoer het, vertel ’n mens val soos ’n klip grond toe voor die valskerm oopgegaan. “Ek weet nie of ek vinnig geval het nie,” sê Pansy egter. “Ek kan nie onthou nie!” Wat sy wel onthou, is dat motors uit die lug soos speelgoedkarretjies gelyk het.

Samantha is hoeka een van die redes hoekom sy besluit het sy gaan dié sprong aanpak. Sien, die lewenslustige oumatjie doen alles moontlik saam met haar kleinkinders. Sy klim gereeld agter op die kleinseuns se motorfietse en het op 60 die eerste keer perdgery. “My kleinkinders hou my jonk,” vertel Pansy.

Sy was einde Januarie hoeka by om te kyk toe Samantha gaan valskerm spring saam met kollegas van die eiendomsagentskap waar sy werk. “Net daar het ek besluit: As Samantha dit kan doen, kan ek ook!” En weer glimlag Pansy van oor tot oor.

Amper drie weke ná Pansy se verjaardag op 5 Februarie is sy toe saam met Samantha, Michelle en ander familielede na die landingstrook naby Parys om as’t ware haar vlerkies te kry.

Michelle het van die grond af toegekyk hoe haar ma en dogter in die klein Cessna-vliegtuig die lug in geneem word en toe grond toe sweef. “My ma hou daarvan om op die rand van gevaar te lewe,” vertel Michelle.

[caption id="attachment_122347" align="alignnone" width="600"]Pansy se kleindogter, xxx, vertel haar ouma hou daarvan om op die rand van gevaar te lewe. Foto: Verskaf Pansy se kleindogter, Samantha, vertel haar ouma hou daarvan om op die rand van gevaar te lewe. Foto: Verskaf[/caption]

“Daar is niks gewoon omtrent haar nie. Kleintyd moes ons hardloop om by te hou! Sy het baie hoë energievlakke; het nog altyd gehad.”

Pansy sê sy verstaan nie hoekom almal so ’n bohaai oor die valskermspringery maak nie. En sy is g’n adrenalienverslaafde nie. “Jy is, Oumie!” roep Michelle uit, waar sy hand in hand met Pansy sit.

Met Michelle se 50ste verjaardag, twee jaar gelede, het sy en Pansy saam ’n ballonvaart gedoen.

Pansy se gesondheid is baie goed. Sy drink “baie ligte” tablette vir hoë bloeddruk. Sy vertel toe sy haar huisdokter inlig oor haar beplande valskermsprong, het hy kwalik ’n oog geknip. “Hy het gesê: ‘Ja, dis reg. Gaan spring.”

Sy en drie vriende van die aftreeoord gaan stap getrou soggens tussen 3 en 4 km op Henley. “En ons stap vinnig!”

Onder haar vriendinne is sy klaarblyklik al wat sulke avonture aanpak. “My vriende sê ek doen die onmoontlike; hulle sal dit nie doen nie,” vertel Pansy.

“Ja, dit skok so baie mense,” lag Samantha. “Ek is mal daaroor.”

[caption id="attachment_122349" align="alignnone" width="600"]gr “Eers toe ek by die vliegtuig se deur uit is, toe dink ek: Genade, wat doen ek?” vertel Pansy en lag. Foto: Verskaf[/caption]

Watter belangrike lesse het sy by haar ouma geleer? “Om jonk en positief te bly, en altyd gelukkig te wees,” antwoord Samantha dadelik. “Daar is net geen keer aan haar nie.”

En watter avontuur gaan ouma en kleindogter volgende aanpak?

“Rekspring,” sê Samantha dadelik.

Pansy huiwer ’n oomblik. “Ek dink nie ek sal dit doen nie; ek sal twee keer dink,” laat sy dan hoor.

Maar haar oë blink nes haar kleindogter s’n.

[caption id="attachment_122350" align="alignnone" width="600"]sfg Pansy en Samantha. Foto: Papi Morake[/caption]

Kyk hier na ’n aksiebelaaide videoopname van Pansy se sprong:

– Jana Smit

Lees ook op Huisgenoot:

Sexy ouens van DZL byna katswink geslaan in nuwe musiekvideo

Eina! Gwyneth Paltrow se pynlike velsorgroetine is nie vir sissies nie

Skokaankondiging oor Paula van 7de Laan

Dis ‘Vive la France’ én ’n nuwe musiekvideo vir Francois van Coke!