WAARSKUWING: Bevat ontstellende beeldmateriaal.

Hier volg die vreesaanjaende oomblik toe ’n seuntjie in ’n yslike vlieër verstrengel geraak het, ongeveer 20 m in die lug opgetrek is en hom toe doodgeval het.

Die ongeluk het Sondagoggend in die stad Ho Chi Minh, Viëtnam, gebeur toe die vyfjarige Van Minh Dat se bene in die toue van die vlieër verstrengel geraak het.

Hy het die verskriklike val aanvanklik oorleef, maar het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Beeldmateriaal, wat met ’n selfoon geneem is, wys die oomblik toe vreesbevange toeskouers besef dat die seuntjie saam met die vlieër opgetrek is.

Daarna wys die greep hoe hy neerstort grond toe – maar ons het besluit om hierdie gedeelte weg te laat.

Die seun se ouers verkoop na bewering drinkgoed aan vlieërgeesdriftiges en lede van die publiek in die Dong Dieu-gebied van die distrik Hoc Mong.

Dat het om ongeveer 16:00 langs ’n yslike rooi vlieër gestaan wat gereed was om deur die Saigon Kite Clu opgelaat te word ter voorbereiding op ’n vlieërfees.

Volgens die koerant Nguoi Lao Dong het ’n groep mense probeer om die vlieër, met ’n vlerkspan van 18 m, te laat opstyg, toe Dat daarin geslaag het om ongesiens onder die vlerk van die vlieër in te beweeg.

Die koerant het berig dat, toe die vlieër begin opstyg, stomgeslane toeskouers nader gestorm het om dit terug te trek grond toe, maar hulle kon nie die seuntjie red nie.

Bronne: The Mirror, Tuoitrenews.vn, YouTube