[caption id="attachment_149973" align="aligncenter" width="600"]Eric in sy Kersvader-pak. Eric in sy Kersvader-pak. Foto: Facebook[/caption]

Trane het reeds in Vader Kersfees se silwergrys baard geglinster toe hy antwoord: “Doen my ’n groot guns. As jy daar is, vertel hulle jy is Kersvader se Nommer Een Elfie en ek weet hulle sal jou inlaat.”

“Sal hulle?” het die vyfjarige seuntjie gevra.

“Beslis,” het Kersvader geantwoord. Die seuntjie het met sy laaste krag regop gesit en sy held ’n groot druk gegee. Hy het nog een vraag gehad: “Kersvader, kan jy my help?” Dit was die dapper vegtertjie se laaste woorde.

“Ek het my arms om hom gevou en voor ek enige iets kon sê het hy sy asem uitgeblaas en net daar en dan gesterf.

Ek het hom bly vashou. Die mense buite sy hospitaalkamer het deur die venster gekyk en besef wat aangaan.

Sy ma het geskree: “Nee, nee, nie nou al nie!”

Ek het haar seuntjie aan haar oorhandig en is so vinnig moontlik daaruit,” het die 60-jarige Eric Schmitt-Mantzen van Caryville in Tennessee onlangs vertel nadat hy 'n jong aanhanger wat terminaal siek was in die hospitaal moes gaan besoek.

Eric vertolk al byna ’n dekade lank tydens die feesseisoen die rol van Kersvader en dra vir minsens 80 verkynings ’n jaar die stewels en rooi pak.

Tog was hierdie besoek aan die sterwende seuntjie een wat hy nooit sal vergeet nie. Details van die kind word weerhou om die privaatheid van sy gesin in hul tyd van rou te beskerm.

“Ek het vier jaar in die weermag deurgebring,” het Eric, ’n meganiese ingenieur wat in sy 'gewone lewe' die hoof is van Packing Seals & Engineering in Jacksboro in Texas, agterna aan Amerikaanse media vertel.

“Ek het as soldaat baie dinge gesien en beleef, maar daardie dag het ek verby die verpleegsters se stasie gehardloop en my oë uitgehuil. Ek weet dokters en verpleegsters sien en beleef sulke dinge elke dag, maar ek weet nie hoe hulle dit regkry nie.”

Hy het so gehuil hy kon skaars sien waar hy ry op pad huistoe, het hy bygevoeg.

“Ek en my vrou sou die volgende dag vir ons kleinkinders in Nashville gaan kuier, maar ek het gesê sy moet op haar eie gaan,” onthou Eric. Sy vrou, Sharon (58), tree gewoonlik as Moeder Kersfees saam met hom op.

Sy is verlig sy was nie hierdie keer saam nie, want dan was hulle altwee erg getraumatiseer. “Hy was vir drie dae lank verpletter,” het Sharon gesê.

Hy is gebore vir dié rol as Kersvader: 1,8 meter lank en 141 kilogram swaar, skrets Eric ook.

“Net genoeg van ’n skoot vir die kinders om op te sit,” meen hy.

Sy indrukwekkende sneeuwit baard en krul-snor is beslis nie ’n aangeplakte besigheid nie. Hy groei heel jaar daaraan en het al eerste plek in ’n nasionale kompetisie gewen vir die beste “natuurlike vol baard en gestilleerde snor”.

Selfs sy selfoon se deuntjie wanneer daar ’n oproep inkom, is reg deur die jaar Jingle Bells.

Maar niks kon hom voorberei vir daardie oproep ’n paar weke gelede nie, sê Eric.

“Die telefoon het gelui. Dit was ’n verpleegster wat ek ken wat by die hospitaal werk. Sy het gesê daar is ’n siek seuntjie wat Kersvader wil sien,” vertel hy. En daar is nie tyd vir hom om sy pak aan te trek nie. “Jou Kersvader-kruisbande is goed genoeg. Kom dadelik!”

Binne vyftien minute was hy by die hospitaal. Hy het die seuntjie se ma en verskeie ander familielede ontmoet. Sy het vir die knapie ’n speelding uit die gewilde TV-reeks vir kinders, PAW Patrol, toegedraai en het dit vir Eric gegee om dit vir haar seunjie te vat na sy bed in die intensiewesorg-eenheid.

“Niemand het saam met my gegaan nie en almal het emosioneel en in trane deur die venster na ons gekyk,” vertel Eric.

“Hy het daar gelê, so swak dit het gelyk asof hy enige tyd gaan wegdommel,” sê Eric. Hy het op die bed langs hom gaan sit en gesê: “Wat hoor ek jy gaan Kersfees misloop. Daar is geen manier nie. Jy is my Nommer Een elf.”

Die seuntjie het opgekyk na hom en sy perfekte Kersvader-baard.

“Ek is?”

Toe hy die geskenk aan hom oorhandig, was sy handjies so swak dit was ’n gesukkel om die Kerspapier weg te skeur, maar toe hy sien wat binne-in is, het sy gesig gestraal met ’n groot glimlag, totdat hy ’n paar minute later gesterf het.

Dit gaan hom weke neem om nie die heeltyd daaraan te dink nie, sê Eric. Hy het selfs oorweeg om vir altyd sy Kersvader-pak ver onder die motbolle weg te pak, maar toe herinner hy homself wat dit was wat hom in die eerste plek gemotiveer het om daardie pak aan te trek.

“Toe ek al die kinders sien lag [by die funksie waar ek opgedaag het as Vader Kersfees] het dit my teruggebring aarde toe. Dit het my laat besef watter rol ek speel.”

Bronne: Daily Mail, Knox News, USA Today.