Nooddienspersoneel het ’n uur lank gesukkel om ’n vyfjarige seuntjie se lewe te red ná ’n ongeluk Sondagmiddag op Ou Kaapseweg in Silvermine, Kaapstad, het ER24 Sondag gesê.

Toe paramedici op die toneel opdaag, het hulle ’n bakkie en ’n sportsnutsvoertuig aangetref wat in ’n botsing reg van voor betrokke was.

Hulle het afgekom op ’n man wat kardiopulmonêre resussitasie op die vyfjarige seuntjie toepas en dadelik by hom oorgeneem, sê Russel Meiring, ER24-woordvoerder.

“Ongelukkig het hy geen teken van lewe ná ’n uur getoon nie en die seuntjie is op die toneel dood verklaar.”

Nog ’n seuntjie (ook vyf) is ondersoek en het matige beserings opgedoen. Hy is na die Rooikruis-kinderhospitaal vir verdere behandeling geneem. Albei bestuurders het geen beserings opgedoen nie.

’n Man en twee kinders het in die sportsnutsvoertuig gery toe die bakkie na bewering in hul rigting uitgeswaai het. Plaaslike owerhede sal die voorval ondersoek.

In ’n afsonderlike insident het ’n 15-jarige seun wonderbaarlik oorleef ná hy uit ’n bewegende motor geslinger is Sondag in Sasolburg. ER24-woordvoerder, Russel Meiring, het gesê toe paramedici by die toneel in Paardeberg-pad aankom, was die motor op sy dak. Die jong man het langs die motor op sie sypaadjie gesit.

Hy is ondersoek en vir geringe beserings behandel. Die oorsaak van die ongeluk word ook ondersoek.

Bron: News24