’n Pa van drie in Engeland moet sowat R8 000 se kredietkaartskuld betaal nadat sy vyfjarige seun die kostes laat ophoop het toe hy ’n “gratis” legkaart-app op Facebook gespeel het. Sy vyfjarige seun, Alexander, wat outisties is, het die groot koste veroorsaak deurdat hy ’n paar dae lank die speletjie Juice Jam op sy pa se Facebook-blad gespeel het.

Alistair Leith, Alexander se pa, gebruik die sosiale netwerk om betaalde advertensies vir sy besigheid te plaas en sy kredietkaartbesonderhede is as deel van sy aanmeldbesonderhede bewaar. Sy seun het op sy pa se naam ingeteken op die gesin se rekenaar en die gewilde “gratis” legkaartspeletjie Juice Jam voor skool gespeel. Maar toe die vyfjarige nog “muntstukke” aankoop as deel van die verslawende speletjie se binne-app-aankope, het die webtuiste nie die seun weer vir kredietkaartbesonderhede gevra nie.

Alexander het toe verskeie “muntstukke” gekoop wat sowat R1 200 elk kos. “Ek het geskrik toe ek die rekening sien,” sê Alistair. “Dit irriteer my dat Facebook dit in die eerste plek so maklik vir kinders maak om ’n betaling te doen . . . daar is so baie toestelle wat jou nie outomaties laat uitteken nie. Dit maak dit vir kinders makliker om hierop te gaan en groot kostes aan te gaan en ek voel nie dis eties korrek nie.” Alistiar dink ook sy seun se outisme het deels veroorsaak dat hy sonder om oor die saak te dink die speletjie gespeel en die kostes aangegaan het. “Hy raak weens sy outisme ’n bietjie meegevoer met speletjies. Baie min dinge kan sy konsentrasie hou.” Hy sê dit was omtrent ’n uitdaging om Alexander te oorreed om die speletjie te los. “Ons het aanvanklik vir hom gesê Facebook het gebreek en vir hom verduidelik die speletjie kos geld en op die ou end het ek vir hom die fakture gewys en verduidelik die speletjie kos geld en pa kan dit nie bekostig nie. Hy het verstaan, maar was baie hartseer.” Ná ’n klag aan Facebook het die sosiale netwerk vir Alistair ’n eenmalige terugbetaling aangebied.

Saamgestel deur Lindsay de Freitas