Stellenbosch – ’n Dankiesêkaartjie van ’n vyfjarige meisie het die brandbestryder Charlton Matthyse deur ’n skof van 48 uur gehelp waarin ’n span van meer as 100 die brand op Simonsberg onder beheer gebring het.

Dié spesiale briefie is bedek met goue sterre en versier met ’n tekening van dit wat na woeste vlamme lyk. Charlton het gesê hy was ontroer toe die meisie, haar suster en hul ouers dit Donderdag saam met ingepakte middagetes en drinkgoed aflewer.

“Dit maak dit alles die moeite werd,” het Charlton (45) Vrydag gesê.

Lees ook: Foto’s: Elgin-vallei in vlamme gehul

“Vir hierdie kind is ons helde. Ons dra dalk nie superheldpakke nie, maar sy dink die wêreld van ons en dit wat ons doen. Dis oorweldigend.”

Die briefie lui: “Beste brandweermanne, ek weet julle werk al baie dae hard. Dankie dat julle so dapper is. Ons waardeer alles wat julle vir ons doen.”

Vordering

Sy vingers is nog bedek met roet en hy ruik na rook, wat hy skerts “die voordele van die werk is” waarmee hy 18 jaar gelede begin het.

“As kind is ek geïnspireer deur die strokie Groenie die Draak oor ’n drakie wat ’n brandweerman wou word,” het hy gesê terwyl sy kollegas lag.

Charlton was verbasend energiek ná sy skof van twee dae.

“Die span het deur die nag goeie vordering gemaak en sake lyk veel beter.”

Terwyl baie moeite gedoen is om opstalle teen vlamme te beskerm, was hy verslae toe ’n rietdakhuis Donderdag aan die brand slaan. Al het hulle daarin geslaan om die brand tot een vertrek te beperk, sê hy dit was uiters teleurstellend dat iemand se huis geraak is.

“Die huiseienaar was baie dankbaar vir dit wat ons gedoen het en het sy dank teenoor my uitgespreek en daarop gewys ek het ses uur bestee om die brand op sy dak te blus. Ek het nie eens besef dit was so lank nie.”

Geloof

’n Brandweerman in uniform wat op sy skof voorberei het, het sy oë toegemaak vir ’n kort gebed.

“Reg, nou is ek gereed,” het hy met ’n glimlag gesê.

Die brandbestryder, wat naamloos wil bly, het gesê hy is trots daarop om deel van die span te wees. Hy het sy verhouding met sy kollegas beskryf as “’n sterk broederskap” wat op vertroue gebou is.

Lees ook: Verskeie brande woed in die Wes-Kaap

“Wanneer ek my rug draai, weet ek my broers en my Here waak oor my. My geloof daarin hou my al die afgelope 10 jaar veilig en vry van besering.”

Volgens beamptes is sowat 70 persent van die brand reeds in bedwang gebring sedert dit Dinsdag ontstaan het. Geen verdere skade is aangemeld nie.

Gevaarlik

Die brandbestryder Morné Isaacs het gesê brande wat weens onverantwoordelike gedrag ontstaan, is uiters frustrerend en ontstellend.

“Dit is ’n gevaarlike werk. Mense plaas hul eie veiligheid op die spel om dit te blus voor dit eiendomme, huise en lewens verswelg,” het hy gesê.

“Die publiek moet verantwoordelikheid aanvaar. Daar is gevolge vir jou dade. Ons branddienste is onder groot druk. Help ons asseblief deur verantwoordelik te wees.”

Bron: News24

Foto: Tammy Petersen, News24