Die polisie het dié aankondiging Donderdagmiddag gemaak. Maj.genl. Oswald Reddy, bevelvoerder, het tydens die mediakonferensie gesê die ondersoek duur voort.

Die vyfjarige meisie, Natalie Baartman van Syferfontein naby Pacaltsdorp in die Suid-Kaap, se lyk is Maandagmiddag in ’n oop veld gevind. Sy is verkrag en verwurg.

Sy is Maandagoggend as vermis aangemeld, het die George Herald berig. Sy is Saterdagaand sesuur laas lewend gesien.

Haar ouers, Dawid en Dora (albei 29) van Syferfontein, het gedink sy het dalk Saterdagaand by ’n familielid gaan oorslaap. Hulle het Sondag vir mense in die omgewing gevra of hulle haar gesien het en Maandag besluit om Natalie as vermis aan te meld.

Volgens ’n verklaring van kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, het Natalie se ouers tussen elf- en twaalfuur Maandagoggend die polisie se hulp ingeroep – 10 minute nadat die Pacaltsdorp-polisie begin soek het, het hulle op Natalie se liggaam afgekom.

Haar halfnaakte liggaam is sowat 50 m van haar ouerhuis af gevind. Sy het op haar rug gelê en haar hande was met ’n kledingstuk agter haar rug vasgebind.

Dora het aan die George Herald gesê Natalie was in ’n T-hemp en spanbroek geklee toe sy haar laas gesien het.