Caiden Moran is in vele opsigte ’n doodnormale vyfjarige. Hy hardloop graag rond en speel saam sy broer buite. Die enigste merkbare verskil? Die toestelletjie aan die kant van sy kop.

Die Amerikaanse kleuter is gebore sonder kogleas, die deel van die binneoor waarmee ’n mens van klankgolwe bewus word en wat seine na die brein stuur sodat jy kan hoor. Caiden is dus heeltemal doof.

Omdat hy nie kogleas het nie, sou hy nie baat vind by ’n koglea-inplanting nie. Raadop het sy ouers handgebare geleer en gedink dit sal waarskynlik die enigste manier wees waarop hulle met hul seun kan kommunikeer.

Tot Caiden se ma, Danielle, van ’n ander oplossing gehoor het: ’n ouditiewe breinstam-inplanting.

Dit bestaan uit ’n mikrofoon en ’n sender wat aan die buitekant van die kop aangebring word. Dit verander klankgolwe in elektriese golwe wat ’n ontvanger in die kop bereik. Dié ontvanger is met die breinstam verbind. So word die ouditiewe neurone in die brein regstreeks gestimuleer en die binneoor heeltemal gesystap.

Die operasie wat Caiden ondergaan het, is nog betreklik nuut, veral in Amerika, waar dit net op kinders tussen die ouderdom van twee en vyf jaar gedoen word. “Ons voel op daardie ouderdom is dit nog veilig om die prosedure te doen en die kind is ook nog jonk genoeg om daarby baat te vind,” het dr. Eric Wilkinson, een van Caiden se dokters, aan CNN gesê.

Ná die operasie kon Caiden vir die eerste keer hoor. Tog sal dit nog jare neem om sy brein die klanke te help verstaan en interpreteer omdat hy tot dusver niks kon hoor nie.

Caiden ontvang nou ’n paar keer per week spraak- en gehoorterapie. Hy gebruik op die oomblik nog meesal gebaretaal, maar kan reeds sekere klanke herhaal.

Bronne: CNN, clapway.com