Wat ’n superheld! Zavi Ahmed (5) het tot die redding gekom toe ’n eenjarige meisietjie, Iris Adamski, gister tydens ’n inkopie-uitstappie in ’n warm motor vasgekeer was.

Haar grootouers was besig om kruideniersware in hul Volkswagen Beetle te laai toe die motor outomaties sluit – met Iris en die sleutels binne-in die motor.

“Ons het die polisie gebel. Hulle het alles probeer en uiteindelik die agtervenster gebreek. Hulle kon egter nie die motordeur bykom nie, want dit (die venster) is nogal klein,” het Iris se ouma, Caroline Penny, verduidelik. Maar gelukkig is daar ‘n held wat opgedaag het – in kleiner vorm, maar ‘n ware redder in die gedaante van “Batman”. Die vyfjarige Zavi, geklee in sy Batman-uitrusting, het saam met sy ma oorgestap en aangebied om deur die venster te kruip om die sleutels te gaan haal. “Dit was nou waarlik ’n geval van Batman tot die redding,” het John Penny, Iris se oupa, gesê. Zavi, wie se gunsteling-held Batman is, het gesê: “Ek voel altyd soos ’n superheld, maar hierdie dag was spesiaal.”

Bronne: mirror.co.uk, metro.co.uk