Jayde is verlede jaar op 28 April buite haar huis in Kabegapark ontvoer en vermoor. HeraldLive berig dat Zolani Roxo, vermoedelik in sy dertigs, Sondagmiddag by sy ouerhuis in Greenbushes in hegtenis geneem is. Zolani sal Dinsdag in die hof in Port Elizabeth verskyn.

Volgens berigte is Roxo deur die ondersoekbeampte, kaptein Kanna Swanepoel, in hegtenis geneem. Hy gaan van moord aangekla word.

Tsepo Ndwalazi van die Nasionale Vervolgingsgesag het aan die African News Agency (ANA) gesê dat die verdagte deur middel van selfoontegnolgie vasgetrek is. Dié tegnologie plaas hom op 15 April by die Panayiotous se Stellen Glenn-kompleks waar die beweerde ontvoering later plaasgevind het.

Dit blyk asof hy daar was om die omgewing te verken.

Hy was glo ook teenwoordig toe die beplande ontvoering op 16 April gekortwiek is ná hulle nie vir Jayde kon vind nie.

Haar man, Christopher Panayiotou, asook Sinethemba Nenembe, Luthando Siyoni en Sizwezakhe Vumazonke is reeds in aanhouding. Van die aanklagte teen hulle is: moord, ontvoering, roof met verswarende omstandighede en sameswering om moord te pleeg.

Christopher word ook deur ’n klagte van regsverydeling in die gesig gestaar. Hy het reeds drie keer onsuksesvol om borgtog aansoek gedoen.

Siyoni het sedertien ’n getuie vir die staat geword. In sy verklaring het hy aangedui dat Christopher by hom probeer uitvis het of hy iemand kan wat iemand kan doodmaak.

Siyoni sê voorts in sy verklaring dat Chanelle Coutts, Panayiotou se meisie, in die motor was terwyl die gesprek plaasgevind het.

Bronne: ewnco.za, heraldlive.co.za, iol.co.za