Sirgiorgiro Clardy (26), ’n prostitutebestuurder van Portland, was in die nuus omdat hy Nike vir meer as R1 biljoen gedagvaar het. Volgens hom moet Nike Air Jordan-skoene ’n waarskuwing dra dat hulle as gevaarlike wapens gebruik kan word.

Sirgiorgiro het met sy Nike Air Jordan-skoene op ’n man se gesig getrap omdat hy ’n hotel wou verlaat sonder dat hy Sirgiorgiro se prostituut betaal het. Die slagoffer se beserings was so ernstig, hy moes steke aan sy gesig en kosmetiese chirurgie kry.

Maar Sirgiorgiro is nie al wat ’n vreemde eis teen ’n groot maatskappy ingestel het nie.

Victoria’s Secret is vir ’n besering gedagvaar.

Macrida Patterson, ’n polisievrou van Los Angeles, het Victoria’s Secret in 2007 gedagvaar. Die foutiewe agterkant van haar deurtrekkerbroekie het glo haar oog beseer. Volgens Macrida se prokureur, Jason Buccat, het sy drie snye aan haar horingvlies opgedoen. TODAY het berig haar oog is so ernstig beseer dat sy plaaslike steroïede moes gebruik. Die broekie is beskryf as “’n stukkie blou materiaal met ’n rynsteenhart wat deel is van die lyfband en met metaalskakels aan die materiaal vasgemaak is”.

Die ongeluk het gebeur toe Macrida verklee het in die kleedkamer by haar werk. Sy het aan TODAY vertel: “Ek was besig om my Victoria’s Secret-onderklere aan te trek, en die metaal het in my oog geskiet. Dit het baie vinnig gebeur. Dit was verskriklik seer; ek het geskree. Dis wat gebeur het.”

’n Man dagvaar ’n biermaatskappy wat glo drome aan hom verkoop het.

Het jy al gewonder waarom adverteerders in fyndruk by hul produkte noem nie alles is ingesluit wat vertoon word nie? In 1991 het Richard Overton van Michigan die bierbrouery Anheuser-Busch, wat Budweiser vervaardig, gedagvaar vir misleidende reklame. Volgens hom het die “bedrieglike” reklame hom emosionele spanning, geestelike lyding en finansiële verlies besorg. Hy het beweer die bieradvertensies het voorgegee die bier kan “pragtige tropiese plekke en vroue” optower, asook “mans wat eindeloos onbeperkte vrolikheid geniet”. Dit het nie met hom gebeur nadat hy die bier gekoop en gedrink het nie. Sy saak is verwerp.

Walmart is vir ’n sekslose huwelik gedagvaar

Aracely Gonzalez van Florida en haar man het Walmart gedagvaar; die winkel het glo ’n rok aan haar verkoop wat tot ’n gebrek aan seks in haar huwelik gelei het. Dié rok, wat sy drie jaar gelede gekoop het, het hartkloppings en ’n ernstige veluitslag by haar veroorsaak. Dit het eindelik ’n selibate huwelik tot gevolg gehad. Volgens Aracely het sy ’n pynlike rooi uitslag oor groot dele van haar liggaam gekry, waarvoor sy hospitaalbehandeling moes ontvang. ’n Allergiekenner het haar daarna ingelig die rok het haar dermatitis (’n jeukerige velontsteking) veroorsaak. Haar man het Walmart toe gedagvaar vir “verlies aan konsortium”, wat ’n eufemisme is vir seksuele omgang.

Apple kry die skuld vir ’n man se pornografieverslawing

Chris Sevier van Tennessee het Apple gedagvaar omdat dit aan hom ’n  Mac Book verkoop het sonder ’n filtreerder vir pornografie. Chris het beweer Apple het dit aan hom verkoop sonder ’n waarskuwing oor die skade wat pornografie kan veroorsaak. Hy het gesê: “Apple se produk was nie genoegsaam toegerus met veiligheidsmaatreëls wat die inbreuk sou kon verhoed van die pornografiese inhoud wat my lewe sistematies vergiftig het nie”. Volgens Chris het hy baie gely omdat Apple hom nie gewaarsku het oor die gevare van pornografie wat hy deur hul produk bereik het nie. Hy het onder meer emosioneel gely, was neerslagtig en is verneder. Daarby het hy ’n maagseer gekry omdat hy sy vrou en kind verloor het. Hy was verslaaf aan seksuele opwinding, wat sy huwelik vernietig en hom werkloos gelaat het.

Nike is gedagvaar omdat hulle Michael Jordan bekend gemaak het

Allen Heckard van Portland was moeg om oral aangesien te word vir die basketballegende Michael Jordan. In 2006 het Allen, wat 15 cm korter is as die sportster, Nike en Michael vir R4,5 biljoen elk gedagvaar. Omdat hy so baie na Michael lyk, het hy Michael gedagvaar vir emosionele pyn en lyding, karakterskending en permanente besering. Hy het ook Nike se stigter, Phil Knight, gedagvaar omdat hy Michael beroemd gemaak het. Allen het verduidelik dit het hom ongemaklik laat voel om soos Michael te lyk.

Bronne: TIME, Huffingtonpost, Listverse.com, The Oregonian, Findlaw.com, TODAY, Daily Mail, Upi.com