"Die liefde is ’n avontuur"

1. Watter lesse het jy in die Boer Soek ’n Vrou-proses geleer?

Soveel lesse is te leer op die plaaspad; by die boere en ook by die vroue. Vanjaar was dit vir my opvallend hoe gemaklik al die deelnemers met hulself was en ek het opnuut besef hoe belangrik dit is om te weet wie jy is, waarin jy glo en om met selfvertroue die lewenspad aan te pak.

Ek het geleer daar is iets soos ’n tweede kans en soms selfs ’n derde of vierde een ook. Geluk is meer dikwels as wat ons wil erken tog ’n keuse en die liefde is ’n avontuur.

2. Plaasmense het mos altyd lekker kos. Vertel meer van die kos wat jy op die plase geëet het. Boerekos het geen gelyke nie, dit is nou maar net smullekker en op ’n koue wintersdag gee dit gemoedsrus wat altyd gepaardgaan met ’n geselligheid en ’n glimlag. Ek het heerlike vleis en skaaptjoppies van die boonste rak geëet en pampoenkoekies waarvan jy net nie genoeg kan kry nie. Om nie eens te praat van die koeksisters, pannekoek en ander gebak nie. En baie biltong, soos dit ’n ware boeremeisie betaam.

"Die hoop by elke vrou dat sy dalk gekies gaan word"

3. Kon jy soms die spanning op die plase aanvoel?

Soos die proses op elke plaas vorder raak die emosies ál meer intens en dit is te verstane – almal is daar met een doel voor oë: om ’n lewensmaat te vind saam met wie hulle die pad vorentoe kan stap, maar ongelukkig kan die boer net een vrou kies.

Daar is druk op die boer om die “regte” keuse te maak en die hoop by elke vrou dat sy dalk gekies gaan word. Soms raak die vroue vriendinne omdat hulle in dieselfde bootjie is en ander kere dryf hulle ver uitmekaar omdat hulle juis wil plek hê in hul bootjie vir die boer.

4. Wat was van die snaakse oomblikke agter die skerms?

Die meeste van wat agter die skerms gebeur by Boer Soek ’n Vrou word op die TV-skerm vir die kykers ook gewys - die snaakse oomblikke, trane en selfs die ongemaklike stiltes. Dit is juis vir ons belangrik om so eg as moontlik te wees en sover moontlik die werklikheid van die reeks vir die kykers te wys.

5. Hoekom dink jy is die reeks so gewild?

Ek glo die reeks is gewild omdat kykers daarmee kan identifiseer, omdat almal al êrens met sake van die hart te doen gehad het of gaan hê. Dit spreek van hoop en menslikheid en herinner ons daaraan om dapper genoeg te wees om liefde ’n kans te gee.

Boer soek 'n Vrou word Donderdagaande om 20:30 uitgesaai

- Joshua Carstens