Vakansiegangers op Cambrils, sowat 110 km suid van Barcelona, het in alle rigtings gevlug toe die skote op die promenade begin klap.

’n Polisieman en ses ander is beseer toe die aanvallers ongeveer 01:00 Vrydagoggend doelbewus met ’n voertuig in hulle vasjaag. Een van die beseerdes is in ’n kritieke toestand.

Die voertuig het omgeslaan, waarna die polisie op die verdagtes losgetrek het. Die vyf insittendes, wat na bewering fop-plofstofgordels gedra het, is doodgeskiet.

’n Ooggetuie het aan BBC vertel hoe een van die verdagtes vir die polisie geglimlag het kort voor hy doodgeskiet is.

Las Ramblas

Drie verdagtes is reeds weens Donderdag se terreuraanval in hegtenis geneem. Een van hulle is Driss Oukabir (28), ouer broer van die Moussa Oukabir (18), wat vermoedelik die paneelwa bestuur het. Die broers is van Marokkaanse afkoms.

Dit gons op die internet oor die twee broers se brutale plasings op Facebook. Moussa Oukabir het na bewering in een van sy plasings gesê hy sal ongelowiges doodmaak.

Die tweede verdagte is ’n Spanjaard van Melilla, en die derde is waarskynlik die bestuurder wat in die polisiebheerpunt vasgejaag het.

Dit is onseker of die mens wat die polisie in boeie weggeneem het wel Driss Oukabir is.


Laila Rouass, ’n Britse aktrise wat die rol van Amber Gates in die televisiereeks Footballers’ Wives vertolk het, was tydens Donderdag se terreuraanval in Barcelona. Sy het op Twitter vertel hoe sy tydens die aanval in een van die nabygeleë restaurante se vrieskaste weggekruip het.

’n Sewejarige Australiese seun, Julian Cadman, word steeds vermis ná Donderdag se terreuraanval.

Sy ma, Jom, is in die aanval beseer en verkeer in ’n ernstige toestand in die hospitaal. Hulle was in Barcelona om ’n familielid se troue by te woon.

Julian se pa, Andrew, het Vrydagoggend van Sydney na Barcelona vertrek om te help soek na sy seun.

Ook op Facebook word mense versoek om na Julian te help soek.

Terreurvoorvalle wat moontlik verband hou

Die polisie ondersoek die moontlikheid dat die twee aanvalle en ’n gasontploffing in Alcanar, waartydens een mens gesterf het, deur dieselfde groep beplan is. Die groep bestaan uit 12 terroriste. Ongeveer 20 gassilinders is in die puin van die huis gevind.

’n Tweede voertuig, waarmee die verdagtes waarskynlik wou vlug, is omstreeks 18:30 Donderdag sowat 80 km van Barcelona af gevind.

Donderdagaand het iemand ook met ’n motor in ’n polisiebeheerpunt by Sant Just Desvern vasgejaag.

Die dodetal in die vier voorvalle staan nou op 21 en 109 mense is beseer.

Die slagoffers

Daar is bevestig dat ’n Belgiese burger, ’n vrou van Tongeren, een van die 13 is wat tydens die Las Ramblas-aanval gesterf het.

’n Driejarige kind het luidens berigte ook in die aanval gesterf.

Francisco López Rodríguez (60) van Granada is aanvanklik deur sy desperate familie as vermis aangegee. Hulle het dié foto op Twitter gedeel in hul soektog na hom. Dit blyk egter hy is op slag gedood.

Bruno Gulotta, ’n Italiaanse pa van twee, het ook in die aanval gesterf.

Sy kollegas het op Facebook hulde aan hom gebring met die woorde: “Hy was ’n vriend, ’n pa en ’n kollega. Almal het geweet wie hy was. Ons gaan hom mis. Baie sterkte aan Martina en sy kinders.”

Altesaam 26 van die 100 slagoffers wat beseer is, is van Frankryk afkomstig. Van hulle verkeer 11 in ’n kritieke toestand.

In geheel is die beseerdes onderskeidelik van 24 lande afkomstig, waaronder Griekeland, Australië, Italië, Peru en Nederland.

Die Eiffeltoring in Parys se ligte is Donderdagaand afgeskakel om respek te betoon aan die slagoffers van die aanval.


Bronne: abc.net, bbc.com, telegraph.co.uk