President Jacob Zuma moes omtrent Dinsdagmiddag bontstaan toe hy voor die Nasionale Vergadering (NV) moes antwoorde gee oor ’n hele paar geskilpunte.

“Iemand het my een keer gesê dat as iemand se skoenveter verlore gaan, sal die mense jou daarvoor kwalik neem, Zuma,” het Zuma aan die einde van die sessie opgemerk nadat oppposisiepartye hom voortdurend oor alles – van werkloosheid tot buitelandse beleggers – gekap het.

Hier volg vyf moet-lees oomblikke uit die parlement in Kaapstad vandag

1. “Weg met die skelm!” Nes met president Zuma se vorige gesprekke met die NV, het die EFF die taak vir hom byna onmoontlik gemaak. Voordat die verrigtinge kon begin, wou die EFF-leier Julius Malema weet hoe die speaker, Baleka Mbete, ’n misdadiger soos president Zuma in ’n eerbare plek soos die parlement kan toelaat.
Ook COPE se Wiliam Madisha wou weet wanneer die president gaan bedank en die EFF-lid Floyd Shivambu is gevra om die NV te verlaat nadat hy aanhoudende vrae gestel het oor waarom pres. Zuma daar mag wees. Die EFF het die lokaal saam met hom verlaat en COPE het kort voor hulle uitgeloop.
2. Watter nege punte is dié nou weer? Die regering se nege-punt plan wat in 2015 in werking gestel is om ekonomiese groei aan te moedig en werkloosheid teen te werk, het president Zuma rooi in die gesig gelaat toe hy klaarblyklik nie kon onthou wat dié plan behels nie.
Nadat Zuma gevra is oor die werkbaarheid van die plan, het die DA se David Maynier hom gevra om asseblief die nege punte in dié aksieplan op te noem. “Ons het al baie daaroor gepraat hier en die Speaker is bewus van hierdie nege-punt plan waaroor ons reeds gepraat het. Een van die punte is landbou. “Daar is baie,” het president Zuma die vraag gesystap.
KLIK HIER vir die volledige vraelys 3. SAL kom onder vuur. Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en hul omstrede voorsitter Dudu Myeni is skerp gekap omdat sy aanbly as die sukkelende staatsagentskap se voorsitter ondanks die minister van finansies, Pravin Gordhan, se aanbeveling dat Dudu, ’n bondgenoot van president Zuma, die pos verlaat.

“Ek het baie vertroue in haar en die kabinet het haar ingestem, dus is haar aanstelling regmatig,” het hy gesê

4. “Die ANC bly sterk.”

Nadat die DA se Mmusi Maimaine opgemerk het dat die regering dringend hul beeld sal moet verbeter om buitelandse beleggers te lok en ’n verwagte afgradering te vermy, het president Zuma ontken dat daar enige binnegevegte binne die regering is.

“As daar mense is met ’n wanopvatting, moet ons daaraan aandag gee. Maar daar is geen oorlog tussen die kabinet en die tesourie nie en ook nie binnie die regering nie.”

Hy het die turksvy op een stadium aan die adjunkpresident, Cyril Ramaphosa, gegee en gesê "vra hom!" en ook beklemtoon dat die regerende party sterk staan en gesê die jongste verkiesingsuitslae wys dit.

“Die ander partye het nie gewen nie; hulle moes koalisies vorm om te mag regeer.” 5. Die buitelandse vraagstuk. Die nuus dat Japan sowat R33,5 biljoen in Afrika belê het vir onder meer onderwys, gesondheidsorg en ontwikkeling het opposisiepartye laat vrae vra of dit nie gedoen word vir hul eie politieke gewin nie. Japan is immers opsoek na ’n permanente plek by die Verenigde Nasies se veiligheidsraad en hoop dalk Suid-Afrika steun hulle hiervoor. “Nee, dit is nie die geval nie. Suid-Afrika is Japan se sterkste handelsvennoot binne Afrika,” het Zuma teruggekap.

Hy het ook gesê die departement van handel en nywerheid werk hard om goedkoop buitelandse invoere wat plaaslike ondernemings knou teen te werk, maar het nie uitgebrei op vrae oor hoe Suid-Afrika se noue verhouding met China dié goedkoop invoere kan stuit nie.