Is jy moeg van die vervelige borrelgompop wat mense soos Rihanna, Justin Bieber en Katy Perry uitryg? In Januarie sal Bruce Springsteen met die E Street Band hier aanland om vir ons ’n smakie van sy ikoniese handelsmerk van rock n’ roll te gee en te wys waarom hy The Boss is. Hier is vyf liedjies wat hy waarskynlik sal uitvoer:

1 Born To Run

Bruce het die liedjie sedert 1974 al meer as 1 300 keer gesing. Hy het dit gekomponeer toe hy ’n sukkelende 24-jarige sanger en liedjieskrywer was en dit word as een van die ikoniesste “volksliedere” in die geskiedenis van rock beskou. “Ek wou hê dit moes groot klink, jou aan die keel gryp en aandring dat jy daardie rit onderneem, aandring dat jy aandag gee – nie net aan die musiek nie, maar aan die lewe, om te lewe,” het hy later onthul. Dit het dit en veel meer gedoen, en dit is waarom hy dit al amper 40 jaar later steeds sing. Wanneer hy dit sing, word die ligte gewoonlik heeltemal aangeskakel en sing aanhangers die hele liedjie saam.

2 Badlands

Sedert 1978 het hy dit al meer as 1 000 keer gesing, wat beteken hy sal waarskynlik nie sy woorde vergeet nie. Die liedjie, van sy album Darkness on the Edge of Town, vertel die verhaal van ’n sukkelende man wat vir die wêreld kwaad is en van ’n beter lewe droom.

3 The Promised Land

Hierdie een sal waarskynlik ook die speellys vir Suid-Afrika haal, want hy het dit al meer as 1 000 keer uitgevoer. Die snit, ook van sy album Darkness on the Edge of Town, gaan oor ’n sukkelende ou wat bedags in ’n garage werk en saans rondry terwyl hy van ’n beter lewe droom. Tydens vorige optredes het Bruce aan die begin en einde van die liedjie ’n mondfluitjie-solostuk gespeel.

4 Thunder Road

Dit was die openingsnit van Bruce se album Born to Run en hy het dit gereeld op sy konserte gesing tot hy in die 90s skielik opgehou het. Hy het die liedjie in 1999 weer begin sing en dit nou al meer as 1 000 keer uitgevoer. Die liedjie oor ’n jong vrou met die naam Mary, haar kêrel en hul laaste kans om sukses te behaal, word as een van die grootste rockliedjies van alle tye beskou.

5 Born in the USA

Dit is die liedjie dié wat sy aanhangers sal laat opspring en dans. Dis een van Bruce se bekendste liedjies. Dit gaan oor die negatiewe uitwerking van die oorlog in Viëtnam op Amerikaners, maar word dikwels verkeerdelik vir ’n patriotiese volkslied aangesien. Bruce het dit al amper 700 keer uitgevoer en Suid-Afrikaners sal hoop hy sing dit uit volle bors wanneer hy in Januarie hier toer.

BRONNE: ROLLING STONE, ULTIMATECLASSICROCK.COM, WEMBLEYSTADIUM.COM

Bruce Springsteen sal op 28 en 29 Januarie by die Belville-velodrome in Kaapstad optree en op 1 Februarie by die FNB-stadion in Johannesburg. Kaartjies vir die Johannesburg-konsert kan van Woensdag en dié vir die Kaapstad-konsert kan van Vrydag af by Computicket gekoop word.