Hierdie vyf resepte van Annabel Karmel is geskik vir babas van ses maande en ouer.

Hoenderpuree met wortel en appel

½ t olyfolie

½ klein ui, geskil en gekap

350 g wortel, geskil en gesny

250 ml ongesoute hoenderaftreksel, of ’n lourierblaar in water

1 hoenderborsie (sowat 135 g)

1 klein appel, ontpit, geskil en gekap

Verhit die olyfolie in ’n kastrol en soteer die ui tot versag. Voeg die gesnyde wortel by, giet die hoenderaftreksel of water en lourierblaar by en laat kook. Verminder die hitte, bedek en kook 10 minute.

Sny die hoender in stukke en voeg by die wortel saam met die gekapte appel. Kook nog 10 minute. Verwyder die lourierblaar, indien nodig. Puree in ’n voedselverwerker. Vries die oorblywende puree in klein, afsonderlike porsies.

Beesvleis en patat

20g botter

1 prei, gewas en gesny (sowat 150 g)

125 g stowebeesvleis, in blokkies gesny

1 t koekmeelblom

100 g knopiesampioene, gesny

275 g patat, geskil en gekap

250 ml hoenderaftreksel

sap van 1 lemoen (sowat 120 ml)

Smelt die botter in ’n oondbak en soteer die prei sowat 4 minute tot versag.

Voorverhit die oond tot 180 grade °C.

Rol die vleis in die meel, voeg die prei by en soteer tot bruin. Voeg die sampioen by en soteer ’n minuut. Voeg by die patat, aftreksel en lemoensap. Laat kook en bak dan 1½ uur in die oond of tot die vleis sag is. Meng tot die verlangde tekstuur in ’n voedselverwerker en voeg soveel kookvloeistof by soos nodig.

Puree van prei, patat en blomkool

12 g ongesoute botter

25 g prei, gewas en gesny

’n halwe patat, in blokkies gesny (150 g nadat dit geskil is)

250 ml kookwater

75 g blomkool, in blommetjies gesny

30 g gerasperde kaas

Verhit die botter in ’n pan en voeg die prei by. Soteer saggies sowat 3 minute tot versag. Voeg die patat by, giet die kookwater by en kook 5 minute. Meng die groente en kaas in ’n voedselverwerker.

Puree van perske, appel en aarbei

1 appel, geskil, ontpit en gekap

2 t appelsap of water

115 g ryp aarbeie, gepel

1 ryp perske, geskil, ontpit en gesny

1 t rys vir babas

Plaas die appel met 2 t water of appelsap in ’n pan. Bedek en laat prut 5 minute. Voeg die aarbeie en perske by en kook 2 tot 3 minute. Meng tot glad en roer die rys by.

Appel en pruim met bessies

2 soet appels, geskil, ontpit en in blokkies gesny

2 ryp pruime, geskil, ontpit en in blokkies gesny

55 g bloubessies

2 t water of suiwer appelsap

Plaas die appel, pruime en bloubessies in ’n kastrol saam met die water of sap. Verhit tot dit opkook, verminder die hitte en laat prut 7 tot 8 minute tot baie sag. Voeg ’n lepel vol of meer water of sap by indien nodig. Meng die vrugte in ’n voedselverwerker tot ’n puree of klits in ’n bak. Vries in klein, afsonderlike porsies.

Lees gerus Annabel Karmel se resepteboek as jy hou van hierdie resepte. Het jy dalk lekker resepte wat jy met ons wil deel?

- Katharine Wellman

Hierdie artikel is goedgekeur deur Kath Megaw, ’n pediatriese dieetkundige van die BabyGroup Mediese Raad.