Soek jy lekker idees om tyd saam met jou kinders deur te bring? Hier is vyf voorstelle wat dalk selfs jou buierige tiener gelukkig sal hou.

Kry ’n groep bymekaar Kry ’n gebeurekalender met lekker aktiwiteite in jou omgewing. Kyk aanlyn of in jou gemeenskapskoerant. Neem die leiding en nooi van jou kind se maats, en ’n paar ouers, na ’n musiekuitvoering of ’n opvoering, ’n temapark soos Ratanga Junction of Gold Reef City of om te gaan knortjor ry. 

Begin ’n groentetuin Dit is nie net vir bejaardes nie; die kinders kan ook help. Maak ’n stukkie grond in jou tuin skoon, plant groente, bolle, kruie of pragtige blomme en kyk hoe hulle groei.

Leer ’n nuwe taal aan As jou tiener daarvan droom om te gaan reis wanneer hy klaar is met skool, is dit ’n lekker manier om tyd saam met hom deur te bring en iets nuuts te leer. Koop ’n boek-en-CD-pakket of vind uit waar julle naby jul huis kan klasloop.

Begin foto’s neem Daar sal nooit weer ’n saai oomblik wees as jy die wêreld om jou met jou kamera of selfoon begin vaslê nie. Laat druk foto’s en plak hulle in ’n album onder kategorieë soos familie, diere, vriende en vreemde goed. Oorweeg vlaggies. Kliek hier vir ons artikel wat jou wys hoe.

Doen vrywillige werk – Kry jou kind betrokke by ’n versorgingsoord, hospitaal, diereskuiling, dagsorgsentrum of biblioteek. Help hulle ’n verskil maak!