Om iemand te vra om jou na jou matriekafskeid te vergesel, kan nogal ’n senutergende ervaring wees.

Vyf skoolseuns van Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal het besluit om sommer ’n makliker uitweg te volg.

Netwerk24 berig die vyfstuks het besluit om hul oumas as metgeselle te nooi. “Ek het darem geweet sy sal beslis ja sê,” het een van die seuns, HP van Schoor, laat hoor.

Hy en vier van sy klasmaats het onlangs toeskouers by dié skool se matriekafskeid glo in trane gehad toe hulle met hul oumas by die belangrike dans opdaag.

HP het verduidelik hulle het dit gedoen omdat hulle oumas al so baie vir hulle gedoen het. “Ons het geweet dit sal vir hulle baie spesiaal wees,” het hy gesê.

Al vyf die seuns speel vir HLS Oakdale se eerste rugbyspan en het saam in twee groot voertuie, ’n groot bus en ’n woonwa, by die dans opgedaag.

Die seuns se ander metgeselle vir die aand, moes maar rustig in die bus wag totdat die toeskouers klaar oor die oumas en hul kleinseuns gekoer het.

HP se ouma, Binkie van Reenen (75) het na die tyd vertel “Dit was vir my so ’n groot eer, want deesdae is daar nie meer baie kinder swat vir oumense omgee nie. HP is ’n pragtige en dierbare kind en ek is baie lief vir hom.”

Bron: Netwerk24

Lees ook op Netwerk24: