Ons weet almal dat The Notebook die sentimentele en romantiese fliek is wat Ryan Gosling en Rachel McAdams oornag bekendgemaak het en miljoene kykers wêreldwyd trane laat stort het. Maar hier is vyf goed wat jy dalk nie van The Notebook geweet het nie:

  1. Ryan Gosling het voor verfilming twee maande lank soos die Noah gelewe. Om op sy rol as Noah voor te berei, het hy twee maande lank in Charleston gaan woon waar hy heeldag meubels gemaak en soggens vroeg op die Ashley-river gaan roei het. Hy het selfs die kombuistafel gemaak wat in die fliek gesien kan word.
  2. Britney Spears kon Allie gewees het. Bekendes soos Britney Spears, Jessica Biel, Ashley Judd en Reese Witherspoon wou almal graag die rol Allie in die fliek aandurf en het die oudisie bygewoon, maar die rol is toe aan Rachel McAdams gegee. Dankie tog!
  3. Die fliek is agteruit verfilm. Die “sewe jaar ná Allie en Noah”-tonele is eerste geskiet omdat Ryan nog ’n welige baard gehad het. Toe het almal met vakansie gegaan om hom tyd te gun om gewig te verloor en sy baard te skeer sodat hy reg kon wees vir sy rol as die jong Noah.
  4. Ryan moes bruin kontaklense dra. Hy moes sy pragtige blou oë wegsteek met bruin kontaklense sodat hy meer na James Garner kon lyk (die bejaarde Noah).
  5. Ryan and Rachel het nie eens van mekaar gehou nie. “Ons het die ergste in mekaar uitgebring,” het Ryan erken. “Dit was ’n vreemde ervaring om ’n liefdesverhaal te maak en nie met jou medester oor die weg te kom nie.”

Bronne: huffingpost.com, seventeen.com

- Janine Nel