1. Waar staan ons nou?

Oscar het die afgelope maand psigiatriese evaluering in die Weskoppies psigiatriese hospitaal in Pretoria ondergaan sodat dokters kan bepaal of hy aan algemene angssteurnis ly. Die dokters se bevindinge sal dan gebruik word om te bepaal of dit ’n invloed kon gehad het op die gebeure van 14 Februarie 2013.

Die verdediging moet ook nog hul laaste drie getuies roep, waarna die verdediging en staat hul slotbetoë kan lewer. Daarna moet regter Masipa uitspraak lewer en moet vonnisoplegging plaasvind op grond van haar uitspraak.

2. Wie is sleutelfigure in die hof?

Oscar se suster, Aimee Pistorius, is elke dag in die hof, met sy oom, Arnold en ander familielede soos sy broer, Carl, wat ook al die hofverrigtinge bygewoon het. Reeva Steenkamp se ma, June, word dikwels deur vriende en die ANC-vroueliga ondersteun.

3. Presies waarvan word Oscar aangekla?

  • Moord: As hy skuldig bevind word, is die minimum vonnis lewenslange tronkstraf, tensy hy die hof kan oortuig daar is geldige redes vir ’n ligter vonnis. Na gelang van hoe die verhoor verloop, kan hy ook aan strafbare manslag skuldig bevind word.
  • Die onwettige besit van ammunisie sonder ’n lisensie (patrone wat in sy huis gekry is, maar nie van dieselfde kaliber as die moordwapen is nie).
  • Twee bykomende aanklagte wat verband hou met die skiet van vuurwapens in die openbaar. In 2012 het hy glo in Johannesburg met die Reeva-moordwapen deur die oop sondak van ’n motor geskiet terwyl hy saam met vriende gery het. In ’n voorval vroeg verlede jaar het hy na bewering per ongeluk ’n vriend se vuurwapen onder ’n tafel in ’n Johannesburgse restaurant laat afgaan.

4. Hoe onderskei ’n mens tussen die verskillende moorde?

Die twee onderskeie moorde is strafbare manslag, sonder voorbedagte rade en met voorbedagte rade.

Strafbare manslag is uit noodweer, soos wanneer iemand jou wil vermoor. In Oscar se geval is hierdie perke van noodweer dalk oorskry omdat sy lewe glo nie bedreig is nie.

Sonder voorbedagte rade is wanneer die moord op die ingewing van die oomblik gepleeg word en in die geval van ’n borgaansoek kan die regter besluit dat die persoon in belang van geregtigheid borg moet kry. Die maksimum tronkstraf is 15 jaar.

Met voorbedagte rade kan wees dat die persoon die moord ’n maand, week of selfs ’n uur voor die tyd beplan het en verskillende stappe gedoen het in die aanloop tot die moord. In so ’n geval moet die beskuldigde bewys daar is buitengewone omstandighede soos spesiale mediese sorg. In Oscar se geval kan dit wees omdat hy so bekend is en dit moeilik sal vind om te vlug. Dat niemand anders teenwoordig was tydens die skietery nie, beteken hy kan nie inmeng met ooggetuies nie. Dan is die minimum vonnis lewenslank. (Bron: Milton de la Harpe – prokureur wat spesialiseer in kriminele reg.)

5. By watter opspraakwekkende sake was Gerrie Nel en Barry Roux nog betrokke? 

Gerrie Nel:

  • Hy was ’n junior aanklaer in die moordsaak nadat Chris Hani in 1993 vermoor is. Clive Derby-Lewis en Janusz Waluz is skuldig bevind aan die sluipmoord op die voormalige Suid Afrikaanse Kommunistiese Party-leier.
  • Hy was ’n aanklaer in Glen Agliotti se moordsaak nadat dié in verband met die mynmagnaat Brett Kebble se dood in hegtenis geneem is. Agliotti is in 2010 vrygespreek.
  • Hy was die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag en het onder meer die oudpolisiehoof Jackie Selebi in 2010 agter tralies laat beland vir korrupsie.

Barry Roux:

  • Hy was in 2002 betrokke by die vervolging van Roger Kebble, ’n mynmagnaat wat weens belastingontduiking aangekla is. Brett Kebble is die pa van die ontslape Brett Kebble, wat in 2005 vermoor is.
  • Hy het die Skotse sakeman Dave King verdedig nadat King in 2005 weens belastingontduiking aangekla is.
  • Roux het in 2001 teen Nel te staan gekom, toe Nel die staat se saak teen die tandarts dr Casper Greeff gelei het. Greeff is skuldig bevind aan die moord op sy vrou, Estelle, en is ’n lewenslange vonnis opgelê.

Ekstra bronne: ENCA, The Witness, The Week, Mail & Guardian, Moneyweb.