Daar heers paniek en vrees oor die dodelike Ebola-siekte se verspreiding sedert Nigeriese gesondheidsamptenare Vrydag gesê het ’n Liberiese man met die siekte het na Togo en toe na Nigerië gereis voor sy dood. :

1.  DIE UITBREKING IN WES-AFRIKA IS DIE GROOTSTE TOT DUSVER. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê meer as 670 mense het al aan die siekte gesterf. Altesaam 1 201 gevalle is teen verlede week in Guinee, Liberië en Sierra Leone aangemeld. ’n Liberiese man het ook in Nigerië gesterf.

2. PARTY MENSE HET EBOLA OORLEEF. Terwyl die sterftesyfer vir Ebola selfs tot 90 persent kan wees, sê gesondheidsamptenare in die drie lande mense het van die virus herstel en die huidige sterftesyfer is sowat 70 persent. Dié wat die beste gevaar het, het onmiddellik mediese hulp gesoek en het ondersteunende sorg gekry om ontwatering te voorkom, al is daar nie ’n spesifieke behandeling vir Ebola self nie.

3. EBOLA KAN BAIE SOOS ANDER SIEKTES LYK. Die vroeë simptome van ’n Ebola-ontsteking kan koors, hoofpyn, spierpyn en keelseer insluit, sê die WGO. Dit kan moeilik wees om tussen Ebola en die simptome van malaria, tifus of cholera te onderskei. Mense met Ebola begin eers later inwendig en uitwendig bloei, dikwels by die neus en ore.

4. EBOLA VERSPREI NET DEUR LIGGAAMSVLOEISTOWWE. Die Ebola-virus word nie deur die lug versprei nie; dus moet mense met die liggaamsvloeistowwe van ’n besmette persoon in aanraking kom. Dit sluit in bloed, sweet, braaksel, ontlasting, urine, speeksel of semen. Dit maak toevallige oordrag weens kontak in die openbaar onwaarskynlik.

5. VREES EN VERKEERDE INLIGTING IS NADELIG. In elk van die geaffekteerde lande val paniekbevange inwoners gesondheidswerkers en klinieke aan omdat die mense buitelandse dokters en verpleegsters verkeerdelik daarvoor verkwalik dat hulle die virus na afgeleë gemeenskappe bring. Familielede het ook Ebola-pasiënte uit hospitale verwyder, onder wie ’n vrou in Sierra Leone se hoofstad, wat later gesterf is. Polisie moes traangas gebruik om ander uitmekaar te dryf wat ’n hospitaal in die land aangeval het.

- The Associated Press