Hou dit persoonlik en vat ’n blaaskans

Daar’s geen rede hoekom jou 100ste afspraak nie net so spesiaal soos jou eerste moet wees nie. Die geheim om dinge reg te doen, is om te weet waarvan jou maat hou. Onthou om jou idee persoonlik te hou en maak seker jy het alles goed deurgedink.

Wat is die geheime van ’n volmaakte afspraak? Hoe gaan jy daardie spesiale persoon se voete onder hulle uitslaan? Philippa Stewart sê ligging, tydsberekening en om presies te weet waarvan jou maat hou, is belangrik; ’n oorspronklike idee is ’n goeie begin en die res is in jou hande!

Spring weg

Dis bly maar spesiaal om ’n bietjie weg te breek en op ’n avontuur te gaan. As jou maat hou van reis – en jy kan reël dat julle kinders by iemand oorbly – hoekom bederf jy hom nie met ’n reis vir twee na ’n afgeleë kothuis by die see of ’n wegbreeknaweek in die bos nie? ’n Paar wildreservate het romantiese baddens wat in die middel van die bos ingerig is, kompleet met sjampanje, kerse, rose, masserings en sterrekyk saam met jou liefie! Party lodges het nou selfs boomhuise wat ideaal is vir ’n romantiese blaaskans. As ’n wegbreeknaweek nie moontlik is nie, kan jy ’n ent gaan ry – om net ietsie anders te doen, sal al klaar soos ’n blaaskans voel.

Fliekvlooie

Fliekaande is weer groot nuus! Inryteaters maak ’n terugkeer, fliekteaters op dakke is koel, en ja, om op die ouskoolse manier te fliek, is nog romanties.

Etenstyd

As jy weet waarvan jou maat hou, vat dit ’n stappie verder. As hulle hou van uiteet, reël ’n opslaanrestaurant vir die aand. Dit kan in die gemak van jou huis met ’n privaat sjef of in jou plaaslike restaurant wees waar hulle privaat etes bied. As dit nie in jou smaak val nie, wat van wegneemetes by daardie klein eetplekkie wat julle so dikwels besoek het voor julle kinders gehad het? Of jy kan al julle gunsteling-eetgoed in ’n mandjie pak en hom met ’n piekniek buite verras as die kleingoed in droomland is.

Wees waaghalsig

As jy lus vir ’n bietjie avontuur, is daar oorgenoeg om van te kies. Van haaihokduik tot valskermsweef, warmlugballonne tot valskermspring, abseil of rekspronge – maak net seker jou maat ly nie aan hoogtevrees nie en dat hulle bereid sal wees om dit te doen. ’n Afspraak draai nie net om waarvan jy hou nie; dit gaan daaroor om iets spesiaals vir die ander persoon te doen, en in die proses dit ook te geniet!

Kry hulp

The Perfect Proposal help om spesiale afsprake te beplan en te reël. Kontak die maatskappy as jy ’n bietjie inspirasie soek vir huweliksaansoeke, herdenkings, verlowingspartytjies, hernuwing van troubeloftes of net ’n spesiale aandjie uit op Valentynsdag. Die maatskappy weet van spesiale plekke, en veral Kaapstad het pragtige verborge skatte wat privaatheid, romanse en pret bied. Besoek hul webblad theperfectproposal.co.za of stuur ’n e-pos na  info@theperfectproposal.co.za

- Shané Barnard