Keer jou Facebook-blad op sy kop

As jy ’n aanlyn poets op jou pêlle wil bak en hulle twee keer wil laat kyk, is Facebook se English (Upside Down)-opsie net vir jou.

Facebook_1

Soos die naam verduidelik, sal dié opsie meeste van die teks op jou Facebook-blad onderstebo keer.

Hier’s hoe:

  1. Klik regs in die hoek op die sterretjie-ikoon.
  2. Klik op Account Settings.
  3. Klik regs van Language op Edit.
  4. Kies English (Upside Down).

As die opsie jou ná ’n tydjie dronk maak en jy na “normale” teks wil terugkeer, volg dieselfde stappe en kies eenvoudig enige ander taal, wat weer jou teks regop sal draai.

Raak nostalgies

Dié Kerstyd kan jy al jou Facebook-hoogtepunte van 2013 met die 2013 Year In Review-opsie bekyk.

Facebook_2

Om nostalgies te raak, klik op die blou 2013 onder jou profielfoto.

As jy liewer wil kyk watter hoogtepunte jy vanjaar met ’n ander vriend deel, is die See Friendship-opsie vir jou.

Facebook_3

Nes die 2013 Year in Review-opsie, wys See Friendship jou al die hoogtepunte en foto’s van jou saam met enige van jou vriende.

Hier’s hoe:

  1. Gaan na jou vriend se Facebook-blad.
  2. Op jou vriend se hooffoto (die “cover”-foto), klik op die pyltjie aan die regterkant wat afwaarts wys – langs Message.
  3. Klik op See Friendship.

Die langverwagte “dislike”-funksie

Die slegte nuus is dat die “dislike”-funksie nog nie so maklik soos ’n “like”-knoppie werk nie, maar ’n duim-na-onder-ikoon is hier!

Facebook_4

Huffingtonpost.com berig dat Facebook Messenger – die funksie waarmee Facebook-gebruikers met hul vriende op Facebook kan praat – nou ’n duim-na-onder-plakker het, waarmee jy enigiets wat jou vriende doen, kan “dislike”; ongelukkig kan jy dit nog net in Facebook Messenger doen nie op jou vriende se Facebook-tydlyn nie.

Kry die duim-na-onder-ikoon so:

  1. In Facebook Messenger (regs onder op jou profiel), klik op enige van jou aanlyn vriende; dit sal ’n nuwe “chat”-venster oopmaak.
  2. In die hoek, regs onder, is ’n gesiggie. Klik op hom.
  3. Regs bo is ’n ikoon van ’n mandjie. Klik op hom.
  4. Laai die Likes Facebook-pakket gratis af. Een van die plakkers wat jy aflaai is die “dislike”-plakker.

Jy hoef nie Facebook te gebruik om Facebook te gebruik nie

As jy dringend vir een van jou vriende ’n Facebook-boodskap moet stuur, maar vir watter rede ook al nie toegang tot Facebook kan kry nie, kan jy vir hulle ’n boodskap van jou e-pos stuur.

Hoe doen jy dit?

  1. Tik jou boodskap in ’n normale e-pos.
  2. Stuur dit aan jou vriend deur hul Facebook naam en van met ’n punt te skei en net @facebook.com by te las. So: sannie.pieterse@facebook.com

Facebook_5

Die belangrikste Facebook-funksie van almal is . . .

. . . gesonde verstand.

Time.com berig dat Facebook alle data wat jy op die sosiale netwerk tik, berg – selfs Facebook-inskrywings op jou muur of “status” wat jy uittik maar uitvee voor jy dit plaas.

Volgens ingenieurs by Facebook is dit nie om gebruikers se doen en late dop te hou nie; dis bloot vir navorsingsdoeleindes, om te kyk hoekom gebruikers hulself sensor.

As jy weet jy wil ’n uitlating op Facebook maak wat omstrede is of reaksie gaan ontlok, tik dit liewer in ’n Microsoft Word-dokument uit en besluit dan of jy dit regtig wil plaas voor jy dit op Facebook sit.

– Christiaan Boonzaier