1. Baba se eerste vlug. Ideaal gesproke moet jou kind minstens twee of drie maande oud wees voor hulle vlieg. Dit gee hul immuunstelsel kans om sterk genoeg te word om die kieme in die vliegtuig se ventilasiestelsel te weerstaan. Dit julle ook genoeg tyd om ’n roetine vas te stel en kuns van bors- of bottelvoeding te bemeester. As jy nie so lank kan wag nie, is dit oukei om ná die twee weke-ondersoek te vlieg, mits jou baba gesond is en jy ’n voltermyn-swangerskap sonder komplikasies gehad het.

Vinnige wenke:

  • Lugrederye gaan babas onder een week nie sonder ’n doktersbrief laat vlieg nie.
  • Jou baba gaan gemakliker voel as hulle tydens die opstyg en land iets het om aan te suig. Jy kan hulle dus borsvoed of ’n bottel of fopspeen gee.
  • Gee hulle pynmedikasie vir babas as hul ore hulle pla.
  • Om die ontwrigting te verminder wanneer jy oor tydsones heen reis, kan jy jou horlosie op jou tuisstad se tyd hou sodat jy weet wat jou baba volgende gaan verwag.

2. Eerste keer by die strand. Moenie dink die strand is nie ’n opsie nie omdat jy ’n pasgeborene of jong baba het. Babas jonger as ses maande hou dalk net van dut of rondkyk, wat jou meer tyd gee vir ontspan. Of jy ’n baba of kleuter het, is jou bekommernisse dieselfde – jy moet meer pak en dit gee jou minder tyd vir ontspan.

Vinnige wenke:

  • Maak seker jy gebruik sonbrandroom vir babas; die meeste ander soorte is nie geskik vir babas jonger as ses maande nie.
  • Maak seker jy bly in die koelte al het jy sonbrandroom aangesmeer; babas se vel is uiters sensitief. ’n Strandsambreel is ideaal vir kort uitstappies, maar belê in ’n gazebo of strandtent as jy langer wil bly.
  • Wees bewus van die temperatuur maak seker jou baba is ten alle tye gemaklik is.
  • Neem ’n kombers of groot handdoek saam om hulle neer te lê wanneer hulle wil slaap

3. Baba se eerste bootreis. Jou baba moenie op ’n bootreis gaan – insluitend roeibote, kajaks, motor- of seilbote – nie tensy hulle minstens 8 kg weeg en ’n reddingsbaadjie aanhet nie. Dit is in die algemeen meisies van nege maande en ouer en seuns van sewe maande en ouer. Dit kan moeilik wees om ’n drywingsapparaat vir babas te vind en al sê die etiket dit is veilig vir babas wat minder as 14 kg weeg, moet jou baba minstens 8 kg vir dit om reg te pas.

Vinnige wenke:

  • Dit is belangrik dat jy seker maak die reddingsbaadjie pas reg. Trek dit aan jou kind, maak die gespes vas en lig hom aan die baadjie se skouers op. As hul ken en kop deur die nek se opening glip, pas dit nie en moet jy nog ’n rukkie wag voor jy veilig op die water kan gaan.
  • Om self veilig te bly help jou baba veilig bly. Dit is dus net so belangrik dat jy ook ’n reddingsbaadjie dra. In ’n noodgeval gaan daar dalk nie genoeg tyd wees om een aan te trek nie.
  • Moet nooit jou baba alleen op ’n boot of kaai los nie, al het hulle ’n reddingsbaadjie aan.

4. Tyd vir swem. Om jou baba vroeg in hul lewe aan water gewoond te maak, maak sin vir hul veiligheid, en swem is ook lekker pret en goeie oefening vir ma en baba. Maar dit is goed om te wag tot jou baba minstens ses weke oud is. Dit is nie nodig om te wag tot jou baba ingeënt is voor jy hulle swembad toe vat nie.

Vinnige wenke:

  • Babas jonger as ses maande moet net in water swem wat kouer is as 32 °C, en as jou baba swemlesse kry, moet jy seker maak dit is in ’n verhitte swembad.
  • As jy ’n keisersnit gehad of steke het, gaan jou dokter dalk voorstel dat jy ses weke wag voor jy in die water klim.
  • Begin met sessies van 10 minute en bou op tot 20 minute. As jou baba jonger as ses maande oud is, moet jy jou tyd in die water tot 30 minute beperk.

5. Die skuif van ’n wiegie na ’n bed. Daar is nie ’n vasgestelde tyd wanneer jy die skuif moet maak nie, maar die meeste kinders maak die skuif tussen 18 maande en drie en ’n half jaar oud. Die beste aanduiding is wanneer jou kind uit die wiegie probeer klim of spring. Om hulle dan in ’n bed te laat slaap beteken daar is ’n kleiner kans dat hulle gaan seerkry en as hulle besig is met toiletopleiding, is dit vir hulle makliker om snags op te staan en badkamer toe te gaan.

Vinnige wenke:

  • Om die oorgang te vergemaklik kan jy die bed in dieselfde plek as die wiegie sit.
  • Jou kind kan dit strelend vind om onder hul ou kombers te slaap, al is dit te klein.
  • Maak nie saak hoe voorbereid jou kind vir die skuif is nie, sit altyd ’n reling op om te keer dat hulle omrol en uit die bed val.

- Janine Nel

Bronne: parents.com, whattoexpect.com, todaysparent.com