Met die onlangse ontdekking van die aardagtige planeet Kepler 452b sowat 1 400 ligjare weg, die onlangse foto’s van Pluto en die terugkeer van die Star Wars-flieks na die silwerdoek het die debat weer opgevlam rondom die ruimte en die bestaan van ruimtewesens.

Terwyl die soektog na ruimtewesens deur organisasies soos Seti (Search for Extraterrestrial Intelligence) voortduur, kry die publiek hul inligting oor ruimtewesens hoofsaaklik van Hollywood af en uit wetenskapsfiksieromans.

Hier is vyf belangrike wetenskaplike feite oor die soektog na lewe in die heelal:

1. Volgens wetenskaplikes moet ’n planeet wat lewe kan onderhou in ’n “Gouelokkies”-streek wees

In Gouelokkies en die Drie Bere probeer die blonde heldin (of inbreker, as jy so daaraan wil dink) pap eet, in ’n stoel sit en in ’n bed van die beergesin slaap.

Een bakkie pap was te warm, een te koud, en een net reg. Sy vind ook groot stoele, ’n kleintjie en ’n harde en sagte bed voor sy die regtes kry.

Die Aarde is in die “regte” posisie vir lewe om hier te bestaan. Dit is die korrekte afstand weg van die son – nie te naby dat ons al ons water wegkook nie, en nie te ver dat dit vries nie.

’n Afgeleë planeet wat moontlik lewe kan huisves, sal dus ook die regte afstand weg van sy ster moet wees.

Hoewel wetenskaplikes die bestaan van water hoog op die lys van moontlikhede vir die bestaan van ruimtewesens plaas, erken ’n paar tog dat hierdie wesens dalk nie noodwendig water sou benodig om te oorleef nie.

2. As dit bestaan, is dit dalk nie klein groen mannetjies nie, maar enkelsel-organismes – soos bakterieë

’n Ruimtewese met groot oë wat sê “neem my na jou leier” lyk fantasties in flieks, maar dit gaan nogal moeilik wees om met mikroskopiese ruimtewesens te probeer kommunikeer.

Dit sluit egter nie die moontlikheid uit dat hierdie potensiële wesens nie die lewe op ons planeet sal uitwis nie. Hoewel groter ruimtewesens die Withuis kan opblaas en mense vir ondersoeke kan ontvoer, kan die klein organismes soos ’n virus reageer wanneer dit met ons in aanraking kom – ’n virus waarteen ons immuunstelsels nie opgewasse is nie.

3. Volgens ’n vergelyking moet daar ruimtewesens daar buite wees

Die heelal is groot, so groot dat sommige reken daar is meer sterre in die heelal as sandkorrels op Aarde. Die Amerikaanse sterrekundige Frank Drake het in 1961 met ’n vergelyking vorendag gekom wat die moontlikheid bepaal van ruimtewesens wat deur radioseine binne ons Melkweg kan kommunikeer.

Die vergelyking kyk na die getal sterre in die sterrestelsel; die tempo waarteen sterre gevorm word; die getal planete wat moontlik lewe kan onderhou; die fraksie van planete met lewe waar beskawings ontwikkel; en die fraksie beskawings wat tegnologie ontwikkel wat seine van hul bestaan kan uitstuur en hoe lank hierdie beskawings seine in die ruimte uitstuur.

Frank en die beroemde sterrekundige en wetenskapsfiksieskrywer wyle Carl Sagan het vasgestel dat die sterrestelsel, wat tot 400 biljoen sterre kan hê, die potensiaal vir een miljoen ruimtewesebeskawings het wat deur radioseine kan kommunikeer.

4. As dié vergelyking reg is, waar is almal?

Die fisikus Enrico Fermi het gevra as die heelal so groot is, hoekom het ons nog nie kontak met ruimtewesens gemaak nie?

Wetenskaplikes het heelwat teorieë oor hoekom ons nog nie van ander beskawings gehoor het nie en dit sluit in:

  • die Aarde en die mens is uniek aan die heelal;
  • ruimtewesens kon die Aarde besoek het voor die mens se bestaan;
  • die heelal is te groot en dit kan miljoene jare duur voor seine ons bereik;
  • hulle is daar buite en kommunikeer met ons, maar ons tegnologie is te eenvoudig om hul boodskappe op te tel; en
  • party ruimtewesens is koloniseerders en dus het ander beskawings besluit om nie die aandag op hulself te vestig nie.

5. Bestaan ruimtewesens dan?

Gegewe die grootte van die heelal is daar ’n besliste moontlikheid van lewe buiten dié op Aarde.

Die mees wetenskaplike leke-antwoord is dus... miskien.

Bron: News24